Ons het net na 7 uit die dorpie gestap waar ons oorgeslaap het. Een van die interessanthede van die dorpie, asook van 'n paar voor en na die een, is die A6 snelweg wat bo-oor die dorpies gebou is. Wanneer ek se bo-oor, dink eerder aan iets uit 'n Scy-fi fliek. Die snelweg loop daar doer bo oor die bergtoppe, wyl jy hier onder nie daarvan weet nie, behalwe wanneer jy opkyk. Bo snel dit verby en onder leef hulle die vredevolle lewe van die valleie.
Dit is prentjie-mooi wanneer ons die pad begin vat. Die rivier, helder skoon, kabel onder verby. Die son is stadig besig om oor die heuweltoppe te skuif en belig die toring van die eeu-oue kerkie. Huise staan skerp afgeteken teen die groen berghang. Voëls, en die ganse natuur klink dit my, laat weerklink die eerste akkoorde van hulle loflied. Hulle het geen onsekerheid dat hulle Skepper die skepping vul nie.
Vandag is dit weer berg uit, maar ons het goed gerus en stap flink. Ons staan bo op die wêreld, op hoë plekke laat Hy ons veilig loop. Ons gaan eindelik Galicia binne en dit is voelbaar koeler. Ons begin nou afsak see toe. Nog net 140 km om te gaan, vertel een padtekens.
In 'n klein dorpie sit ons op 'n muur in die skadus van 'n boom. Ons eet koekies en drink melk. 'n Man sit en beman sy wandelstokke wat hy verkoop, die sigaret hang skeef in sy mond, hande gemaklik oor die knieë gevou. Besigheid is nie goed nie, maar dit pla hom nie. 'n Klompie melkkoeie kom verby beweeg. Hulle word vergesel van hulle hond. Hier lyk my kry jy "bees-honde" wat help met die aanjaag van die koeie. Die boervou wat saam stap, kan jy sien, verstaan haar werk.
Dan, heel agter, 'n jong meisie, seker 20, jaag liggies die laaste koeie aan. "Foeitog", sê ons. Ek vra vir Ansie waarom dink ons dat dit bejammerenswaardig is. Sy kan soveel meer bereik, is die antwoord. En ek wonder of sy nie dalk meer vrede het nie. Waarom definieer ons steeds vrede en geluk met prestasie, geld, sukses ens. Kan sy nie suksesvol wees as 'n volgende generasie wat melk op tafels sit en met vrede lewe nie? Ons reis is nog nie klaar nie.
Vir julle wat in die toekoms gaan kom stap, 'n paar praktiese stukkies inligting:
Jy kan in die Albergues oorlaap teen tussen €5 en €8. Hulle het almal kussings. Los dus jou kussing by die huis. (Ons betaal vanaand vir die eerste keer €8. Dis 'n privaat Albergue en pragtig.
Toiletpapier en wifi is orals en dis gratis.
Ek sou graag 'n "staplaken" wou gehad het, ek slaap nie goed binne 'n slaapsak nie.
Los jou Swiss army knife. Dis net 'n fancy bottel-oopmaker en daar is altyd iemand met een. Sien my raad oor die gadgets vroeër.
Stapstokke is 'n moet, een werk vir my. Ansie verkies twee.
Sy dra 'n moonbag vir al haar goed wat sy kort-kort nodig het.
Sonbrandroom en breerand hoed. Nie 'n petjie nie, jou ore brand blase.
Anti-histamien en sinutabs as jy met alergieë worstel soos ek.
Ons stap steeds goed en geniet dit ongelooflik. Ons begin dink of ons nie tot aan die einde van die wêreld moet stap nie, sal maar sien.
Groete
No comments:
Post a Comment