So, gister val Ewald en Danie, twee kolegas van Modimolle hier by my in.
Ewald het al die Camino gestap, ek het al vroeër verwys na die raad wat ek by
hom gekry het. Ons drink koffie en kuier oor 'n klomp sake, maar veral die
Camino. Ewald gee vir oulaas raad: “Luister na jou liggaam, as jy moet rus,
doen dit. Indien jy die bus moet vat om te herstel vat die bus, onthou om jou Camino-paspoort
gereeld te stempel.” Daar is steeds te veel vrae wat ek het om te vra. Ons sal
dit later oor die net doen.
Ons praat weer oor die doel van die stap. Om jou rugsak te dra is deel van
die simboliese dra van jou “pakkie”. Die Camino gaan oor aflê en nuut optel,
opstaan en verder reis. Voor hulle vertrek, bid Ewald eers vir my. Hy bid dat
dit vir my en Ansie 'n geseënde en veilige reis sal wees. Skielik in die
oomblik beleef ek iets van die misterie van die reis, een pelgrim wat 'n ander
pelgrim onvoorwaardelik aan die Here opdra...
Ons sakke is gepak, alles is reg. Nou is dit die laaste paar detail
dingetjies wat aandag moet kry. 'n Vriendin bring 'n pakkie maag-medisyne,
eetgoedjies en 'n klein buisie wondergom. Daar word geld in my bankrekening
inbetaal van 'n onverwagse oord. Ons het twee nagte se akkommodasie in 'n pragtige
hotel in Madrid geskenk gekry. Ons sal dit benut aan die einde van ons reis. So
seën die Here ons reeds met hierdie reis wat nog nie eens begin het nie, of
dalk het dit?
Dankie aan almal wat vir ons bid, goeie wens toe wens en ons reis op
verskeie maniere besonders maak. Ons hoop ons sal julle op hoogte kan hou soos
ons reis vorder.
No comments:
Post a Comment