Ons stop vir 'n vinnige koffie en stap deur 'n bouvallige kleiner-as-'n-dorpie. Ons kom op o.a. die klip af met die spreuk: If you can not find peace with in yourself you will never find it. Vrede is binne ons opgesluit, dis mos waar die Koninkryk ook is.
Ons mis die supermark in Villafranca en besluit ook dat ons van daar nie langs die hoofpad na ons volgende dorp gaan stap nie, maar eerder oor die berg. Nie goeie besluit nie. Ons klim vir bykans 12 km teen die berg uit. Ons eet ons laaste proviant en t.s.v gister se gevleuelde woorde, raak ons water op.
Die berg word in vele opsigte 'n reis na binne om die innerlike vrede te soek. Ek en Ansie het mos die stap kom doen vir ons huwelik. Ons stoei rondom 'n paar sake die berg uit. Dit is egter makliker om die berg te uit, as om die berg te af.
Die lewe na buite is maklik om te leef, maar wanneer jy moet afsak in die diepste kamers van die self in om die vrede te soek, is dit 'n pynlike ervaring. Die dissipels wou mos ook bo op die berg bly! Ons vorder treetjie vir treetjie teen die hellings af, al te goed bewus van die pyne in die bene wat protesteer. Maar af moet ons af.
Ons stop in die dorpie onder die berg, ses ure later en uitgeput. Ons bestel koffie, dis nog nie die einde nie. Ons strompel voort om bykans 25 km en 8 ure later by ons oornagplek aan te kom. Ons is in vele opsigte gedaan.
Vanaand se slaapplek bestaan uit verskillende sale, ons slaap ses in 'n saal met vensters en lug. Die volgende bergreeks lê reeds môre vir ons en wag. Ons vertrou dat ons die ook sal uit en af. Al hoe nader na die eindpunt en al hoe nader na die groot Vrede.
Ons het vanaand weer die pelgrimseën van die priester van die dorp ontvang. Ons was egter laat vir die diens omdat ek 'n handoek uit 'n kanaal moes red wat daar ingewaai het nadat Ansie dit gewas het.
Deus adjuva nos.
No comments:
Post a Comment