Search This Blog

Thursday, July 11, 2013

VAN CORCUBION NA FINISTERRE - NA DIE EINDE VAN DIE WÊRELD

En toe is dit die einde! Kom ons begin egter by gister oggend want ons dag het gister 23:00 geeindig.

Na die gewone nag van slaap saam met ander pelgrims, is ons met koffie en roosterbrood bedien. Dit was goed om die verskillende pelgrims se stories en redes vir die Camino aan te hoor. Dalk kan ek later daarvan vertel.

Ons is omtrent 10:00 by Finisterre. Die laaste twee kilometer stap ons kaalvoet oor die mooiste strand. In Finisterre gaan sit ons eers vir koffie en die wi-fi ding. Wie loop ons raak, die Amerikaner wat ons in Melide agtergelaat het. Ons gesels eers weer oor die reis en sy reis in besonder.

Ons het besluit om eers vanaand die reis af te sluit by die verste punt wes. Daar wil ons die son sien ondergaan. Ons bespreek in by die Albergue, kry twee koues en stap strand toe. Die water is helend op ons moeë lywe. Ons drentel deur die dorp, rus 'n bietjie en kook vir ou laas pasta met mossels uit die dop, tuna en parmasankaas en natuurlik 2010 oesjaar. (Wyn is goedkoop!). En toe is dit tyd.

Ons trek ons stapskoene aan wat ons getrou gedien het en stap 20:00 die bult uit na die ligtoring by Cabo de Finisterra. Op pad keer 'n vrou ons voor. Sanet kom van die Kaap en het die hele roete alleen gestap. Sy is op pad terug en wil nie alleen die berg af in die donker nie. Sanet deel vinnig haar storie. Sy het haar geld, foon en bankkaarte op haar reis verloor. Sy het egter aanhou stap. Daar was genoeg engele om te help en te voorsien. Sy het egter geen foto's om te wys nie, want die foonkamera is ook weg.

Jy stap saam met ons terug, kom! Ons neem die foto's waar jy ook al wil staan en e-mail dit vir jou. Sy stap weer saam met ons tot by die einde. By die bordjie "00.00 km" stop ons, ons het nooit beplan om tot hier te stap nie, maar die reis het ons hier uitgebring. Ook vir hierdie deel van die reis kry ons 'n Compostella.

By die kruis op die verste punt plaas ek my Taize-kruisie. Dit was die ander groot kruispunt in my lewe. Die oomblik is vir my en Ansie emosioneel. Ons het goedheid en genade beleef. Ons was nie op weg nie, die Weg was met ons. Soos iemand skryf: "Ek was aan die einde van die wêreld, maar die Camino gaan nog verder." Ons sluit die reis af op 'n besondere persoonlike manier. Ons deel dit met Sanet en ek sing Ubi caritas...

Dan sit ons en wag vir die son om hier om en by 22:00 onder te gaan. Vir 'n uur lank kyk ons na die son, hoe die kleure verander, hoe sy vorm verander. Ek dink weer oor hoe bevoorreg ons is om hier waar Jakobus die evangelie gebring het, te besef die Son van geregtigheid skyn oor ons.

Ons stap saam die berg af, die reis is voltooi. Bykans 500km en 22 dae later, sonder dat ons een dag nie in staat was om te kon stap nie. Ons kon elke dag eet en slaap, ons was elke dag meer bevoorreg as baie ander.

Van vandag af is ons toeriste, of dalk ook nie.? Ons is egter vir eers klaar gestap en klaar in 'n slaapsak geslaap. Ons rus vandag in hierdie pragtige dorpie, dan twee dae in Santiago en twee dae in Madrid. Ek sal later die blog opvolg wanneer ek bietjie meer reflekteer, maar vir eers weer dankie aan almal wat saam gereis het, opmerkings op die blog geplaas het en vir soveel gelukwense.

Johan en Ansie
Ultreia, suseia, Deus adjuva nos!

No comments:

Post a Comment