Search This Blog

Thursday, July 11, 2013

Die einde

VAN CORCUBION NA FINISTERRE - NA DIE EINDE VAN DIE WÊRELD

En toe is dit die einde! Kom ons begin egter by gister oggend want ons dag het gister 23:00 geeindig.

Na die gewone nag van slaap saam met ander pelgrims, is ons met koffie en roosterbrood bedien. Dit was goed om die verskillende pelgrims se stories en redes vir die Camino aan te hoor. Dalk kan ek later daarvan vertel.

Ons is omtrent 10:00 by Finisterre. Die laaste twee kilometer stap ons kaalvoet oor die mooiste strand. In Finisterre gaan sit ons eers vir koffie en die wi-fi ding. Wie loop ons raak, die Amerikaner wat ons in Melide agtergelaat het. Ons gesels eers weer oor die reis en sy reis in besonder.

Ons het besluit om eers vanaand die reis af te sluit by die verste punt wes. Daar wil ons die son sien ondergaan. Ons bespreek in by die Albergue, kry twee koues en stap strand toe. Die water is helend op ons moeë lywe. Ons drentel deur die dorp, rus 'n bietjie en kook vir ou laas pasta met mossels uit die dop, tuna en parmasankaas en natuurlik 2010 oesjaar. (Wyn is goedkoop!). En toe is dit tyd.

Ons trek ons stapskoene aan wat ons getrou gedien het en stap 20:00 die bult uit na die ligtoring by Cabo de Finisterra. Op pad keer 'n vrou ons voor. Sanet kom van die Kaap en het die hele roete alleen gestap. Sy is op pad terug en wil nie alleen die berg af in die donker nie. Sanet deel vinnig haar storie. Sy het haar geld, foon en bankkaarte op haar reis verloor. Sy het egter aanhou stap. Daar was genoeg engele om te help en te voorsien. Sy het egter geen foto's om te wys nie, want die foonkamera is ook weg.

Jy stap saam met ons terug, kom! Ons neem die foto's waar jy ook al wil staan en e-mail dit vir jou. Sy stap weer saam met ons tot by die einde. By die bordjie "00.00 km" stop ons, ons het nooit beplan om tot hier te stap nie, maar die reis het ons hier uitgebring. Ook vir hierdie deel van die reis kry ons 'n Compostella.

By die kruis op die verste punt plaas ek my Taize-kruisie. Dit was die ander groot kruispunt in my lewe. Die oomblik is vir my en Ansie emosioneel. Ons het goedheid en genade beleef. Ons was nie op weg nie, die Weg was met ons. Soos iemand skryf: "Ek was aan die einde van die wêreld, maar die Camino gaan nog verder." Ons sluit die reis af op 'n besondere persoonlike manier. Ons deel dit met Sanet en ek sing Ubi caritas...

Dan sit ons en wag vir die son om hier om en by 22:00 onder te gaan. Vir 'n uur lank kyk ons na die son, hoe die kleure verander, hoe sy vorm verander. Ek dink weer oor hoe bevoorreg ons is om hier waar Jakobus die evangelie gebring het, te besef die Son van geregtigheid skyn oor ons.

Ons stap saam die berg af, die reis is voltooi. Bykans 500km en 22 dae later, sonder dat ons een dag nie in staat was om te kon stap nie. Ons kon elke dag eet en slaap, ons was elke dag meer bevoorreg as baie ander.

Van vandag af is ons toeriste, of dalk ook nie.? Ons is egter vir eers klaar gestap en klaar in 'n slaapsak geslaap. Ons rus vandag in hierdie pragtige dorpie, dan twee dae in Santiago en twee dae in Madrid. Ek sal later die blog opvolg wanneer ek bietjie meer reflekteer, maar vir eers weer dankie aan almal wat saam gereis het, opmerkings op die blog geplaas het en vir soveel gelukwense.

Johan en Ansie
Ultreia, suseia, Deus adjuva nos!

Wednesday, July 10, 2013

VAN OLVEIROA NA CEE EN CORCUBION

Vanoggend wou ons nie opstaan nie. Ons kliphuisie was heerlik koel en dit was die stilste nag in 'n baie lang tyd. Ons is egter vroeg op die pad na 'n ontbyt van koffie en brood met konfyt. Ons stap die dorpie uit en nou sien ons eers werklik hoe groot windkrag hier is. Ek weet van die drie windlaaiers by Darling in die Kaap. Hier op die bergtoppe, so ver soos die oog kan sien, staan hulle ingeryg. Waarom nie meer daarvan in  SA nie?

Ons stop 5 km later vir 'n onbytaanvuller, koffie en koek. Daar lê ongeveer 13 km voor ons met geen stopplekke nie. Ons stap verby 18de eeuse kruise en kerke. Ek probeer van die water met helende uitwerking by San Pedro Martir en dan sien ons die Atlantiese Oseaan voor ons. Ons het inderdaad tot by die see gestap.

Ons gesels onderweg oor ons belewenis van hierdie reis, ons praat oor God, godsdienste en geloof. Ek sê vir Ansie dat ek vermoed haar Moslem kollega verstaan dalk meer van  die pelgrimsreis waarmee ons besig is, juis omdat dit vir hulle so belangrik is om die pelgrimstog na Mekka te onderneem.

Ons besluit om in Corcubion oor te bly, maar die enigste verblyf is nog 'n km weer die berg uit. Ons slaap vanaand oor in Alto San Roque. Die plek was gebou na die Prestige olieramp, was dit in 2002? Vrywilligers bestuur die albergue en ons ontmoet vir Jose en Josefine.  Jose het reeds twee boeke oor die Camino geskryf en hy haal sy notaboek uit wanneer hy ons uitvra oor ons redes. Waarom stap die protestantse priester en sy vrou die Camino?

Die pelgrims wat die een na die ander hier inkom, het almal een doel voor oë: Hulle wil die son sien sak aan die einde van die wêreld. Dan is die pelgrimstog eers voltooi, of is dit? Josefine verduidelik hoe die Camino haar lewe verander het en sy  nou as vrywillger uit Swede in haar verloftyd die albergue kom bestuur. Sy en José kook vanaand vir ons almal. Hulle doen moeite om ons almal, uit versillende lande, tuis te laat voel.

Ons praat oor die innerlike reis, hoe die reis jou lewe impakteer, die lesse wat die Weg jou leer, maar dalk eers later na vore sal kom. More, DV, stap ons die laaste ongeveer 12 km. Ons sal dit soos elke dag weer met dankbaarheid stap. Dankbaar vir bykans 500km sonder enige groot probleme wat ons verhinder het om te kan stap.

Ons is dankbaar vir Sy groot genade.

Êrens laat iemand hierdie nota agter: "Here as ek nie in U glo nie, waarom volg U my elke dag op hierdie weg?" Dalk som dit die Camino die beste op.

Monday, July 8, 2013

VAN NEGREIRA NA OLIVEIROA

Wat jy ook al beplan op jou stap, moet net nooit in Negreira se munisipale Albergue oorslaap nie. Dit is 'n sauna! Tot hoeveel die temperatuur in die plek gestyg het, kan ek nie eers raai nie. Slaap was onmoontlik en toe die reisiger, wat laaste ingekom het gisteraand, se wekker 05:00 afgaan, maak ek vir Anise wakker (Dit het sy voordele om doof te wees.)

Ons stap net voor 6 in die donker uit. My koplamp soek die merkers, die nou al bekende geel pyle, en binne 'n paar minute stap ons die donker woudpaadjie teen die berg uit. Wat 'n belewenis, dis koel, doodstil en net die lig van die koplamp om die roete aan te dui.

Ons wou weer net ongeveer 22km stap. Die feit dat ons 06:00 op die pad is, beteken ons is by ons heeltemal te vroeg by ons volgende slaapplek , weer tussen niks en nerens. Ons besluit om deur te druk en stap 33km tot by Olveiroa. Hoe warm was dit? 19:00 in die restaurant lees die temperatuurmeter 38 grade. Ons drink bottels water uit, wat gelukkig volop is. Vanmiddag het ons weer sommer by 'n plaashuis se erf in gestap en daar getap.

Ek het natuurlik toe ons hier aankom nie lus vir 'n munisipale albergue nie en stop by die Pension en vra om 'n kamer te sien - €30 vir 'n kamer met 'n dubbelbed, die badkamer word gedeel. Die privaat  Albergue is €24 vir ons twee. Ansie sê ons moet na die munisipale Albergue gaan kyk.

Nou liewe vriende, in meer as 40 grade en doodmoeg, wil jy nou of met jou vrou argumenteer, of die raad vat wat die Amerikaanse vriend gegee het: Vir 'n gelukkige huwelik "alway say yes dear".

Die munisipale Albergue is om die draai. Dit is ou kliphuisies wat herstel is en omskep is in verblyfeenhede. Die dame aan diens het 'n boodskap op die toonbank gelos: Kies vir jou 'n bed, ek is 19:00 terug dan kan jy kom betaal. Ons stap deur en kyk. Aan die oorkant van die pad is 'n huisie, deel van die opset met privaatbadkamer, twee beddens onder en drie bo. Ansie reken ons vat hierdie beddens. Ek wys haar daarop dat indien ek na die badkamer kyk, die eenheid vir gestremdes bedoel is. "Het jy enige gestremdes op die pad gesien?" vra sy.

Ons pak af, stort, was klere en kry 'n koue bier. Die kroegman maak ons beker vol deur brood en kouevleis saam te gee - geen ekstra kostes nie - tappas! Ons gaan lê eers 'n rukkie en gaan eet toe by die privaat Albergue se restaurant die Peregrinos menue. Die kos is te veel, maar die eienaar kom vra of ons nog wil hê.

Dis 19:00 en ek moet gaan betaal. Die dame by ontvangs erken ons SA-pelrgimspaspoorte en vra wat ons bednommers is. Ek sê "die honeymoon suite". Sy sê, "O, julle is in die klein eenheid, geen probleem, geniet." Sy maak ons beker verder vol. Hierdie kliphuisies is heerlik koel binne en dit is net ek en Ansie - privaatheid! Ons hoop op 'n goeie nagrus na 'n lang dag.

Ons praat weer vandag oor die reis. Wat het ons alles van mekaar geleer en wat kan ons vir die toekoms saamneem? Eintlik besef ons net weer met hoe min jy kan klaarkom, tot waartoe jy regtig in staat is, hoe die reis makliker is wanneer jy saam met iemand reis. Jy besef die voorreg van saamreis, al is jy en jou reisgenoot twee teenoorgestelde pole. Dit is wat die reis juis suksesvol maak. Die geheim bly om uit beide pole se krag te put.

Ons stap nou al weke deur plase en sien hoe die boere voer baal en "rap" vir die winter. Daar word voorsiening gemaak. Tog kry elke bees steeds elke dag wat hy/sy nodig het. Ons dink daarin is ook 'n les. Jy het genoeg vir elke dag, maak voorsiening vir môre sonder om jouself vandag te wil te kort doen omdat jy  bang is vir môre. Dit wat jy droom om te doen, doen dit nou. Moenie uitstel nie, want as jy nou uitstel, is die kans goed dat jy dit nooit gaan doen nie.

Ons het ongeveer 30 km oor tot by die see - Finisterre. Ons beplan om dit in twee dae te doen. Dalk kan ons egter al môre-aand by Cee of Corcubon met ons voete in die see sit. Ons reis nader sy einde.

Praktiese raad: (Vergewe my indien ek goed herhaal)
Kyk mooi watter tyd van die jaar jy stap. Bring dalk net 'n laken. Orals is daar kussings en komberse indien dit koud is.
Ons het met al die water drink iets soos 'n poeier-koeldrank gemis. Sit vir jou 'n pak Game in. Jy hoef dit nie elke dag te drink nie, maar dit kan 'n goeie afwisseling wees. Ons het nog geen slegte water gedrink nie.
Een bord tussen twee mense is genoeg.
Het ek al iets gesê oor 'n generiese slaappil en oorpluisies?

Dankie vir julle mooi woorde op ons blog, ons waardeer dit steeds.
Groete

VAN SANTIAGO NA NEGREIRA

Ons slaap gister in 'n Albergue in die ou stad. Ons is net drie in die kamer, maar die temperatuur hang hier bo 38grade. By 21:30 gaan lê ons maar om te kyk of ons kan slaap. Ek vermoed dit was om en by 23:00 toe die kuier van alle kuiers onder ons kamervenster uitbreek. Die ergste hitte is toe verby, met die gevolg dat die Spanjaarde begin partytjie. Nodeloos om te sê, slaap was min en ons verslaap sodat ons eers by 08:00 begin stap.

Ons laat die stad agter, kyk terug hoe die katedraal teen die son afgebeeld word en stap die stilte tegemoet. Hierdie is 'the road less travelled'. Nie baie pelgrims stap Finisterre toe nie. Dit is egter weer berg uit en toe ons 30 min later pap nat gesweet is, weet ek; vandag het ons moeilikheid. Ansie stap nog met n siek lyf ook.

Ons stap by 'n huis in en vra die tante so deur die kombuisvenster vir water. Sy tap onmidddelik 'n glas en gee vir Ansie. Ons wil graag die bottels ook volmaak. 'Natuurlik', en sy spoel dit uit en vul dit vir ons. Sy maak ons bekers vol.

Ons stop by 'n rivier sodat Ansie eers kan swem. Ek trek skoene uit en hang my voete in die water. Die rivier is nie so koud soos die wat ons al beleef het nie, maar verfrissend. Die son staan stil toe ons na 14:00 by die albergue aankom waar ons wil oorslaap. Dis buite die dorp en hier is niks behalwe n koeldrankmasjien. Vanaand is ons op die noodvoorraad pakkie pasta. Die 22km was moordend en môre word nog 'n warm dag voorspel.

Die roete raak al meer uitdagend omdat dit nie goed gemerk is nie en slaapplek nie so geredelik beskikbaar is nie. Maar dit is wanneer jy fyner moet oplet, na rigting moet soek dat die weg 'n leermeester word. My medepelgrims vanaand kan jy ook sien is pelgrims. Verskeie sit met notaboeke en skryf die dag se ervaring neer, sif deur die gebeure om die lesse van die pad op te teken.

Ons praat oor die beste roete, waar sal ons kan oorslaap. Die gidsboek beveel aan dat daar ekstra proviant gepak moet word. Dit is egter Sondag en die winkels is gesluit. Tog het ons nou al geleer, die weg voorsien. Iemand sal weer ons pad kruis om ons beker vol te  maak en ons sal heel moontlik weer kan help om 'n ander se beker te vul.

Tot môre (en Wi-fi)

Saturday, July 6, 2013

MONTO DE GOZO NA SANTIAGO

Vanoggend ongeveer 08:15 stap ons Santiago binne. Saam met ons stap nog 'n Suid-Afrikaanse vrou. Sy is deel van die Bloemfontein groep. Dit was 'n goeie besluit om net buite Santiago oor te slaap. Dit is stil wannneer ons die plein voor die katedraal betree, bykans onvoorbereid? Ons dwaal rond asof ons nie mooi weet wat om nou te doen nie. Dit is die einde van die reis en ook nie.

Ons stap die katedraal binne met steeds hierdie verwarde gevoel van wat maak ek met my emosie en watter emosie beleef ek regtig. Ek stap deur die katedraal en poog om alles net te adem. Ek en Ansie gee mekaar ruimte om elkeen sy eie belewenis te smaak. Daar is verskeie  kapelletjies binne die katedraal waar daar in heel party 'n eucharistie in 'n spesifieke taal aangebied word. Ek wil brood uithaal, wyn en die ander nader roep. (Ek het  nie wyn by my nie, wel brood).

Ek stap die trappe af na waar die oorskot van Sint Jakobus lê. Daar kniel ek en prewel 'n kort gebed. Daar is nie werklike stilte nie. Ek stap weer uit en gaan sit langs Ansie - in stilte. Later beduie ek haar waar die oorskot van Jakobus lê. Ons beweeg weer deur die katedraal en besluit by 09:00 dat dit tyd is om ons compostellos te gaan haal.

Die ry is gelukkig relatief kort. Ons ontmoet die ou bekendes van die reis en nog Suid-Afrikaners. Voor by die toonbank moet ek my rede vir die reis merk. Nee, beslis nie godsdienstig nie, ook nie toerisme nie, eerder spiritueel. Ansie merk dieselfde. Ons stap uit, neem foto's en neem afskeid. Ons Italiaanse vriende is ook daar, ons  moet eers gaan saam koffie drink.

Ons kry verblyf, eet vinnig 'n broodjie en toe terug na die katedraal vir die 12 uur mis. Ons beleef dit as chaoties en na 45 min, waar kinders in een van die kapeletjies gedoop is, toeriste in en uit loop, besluit ons dat dit eers genoeg is. Tog is daar 'n moment in die Spaanse diens waar ek die skoonheid van die aanbidding waardeer. Dalk was dit die orrel en samesang wat my terug gevat het na 'n tyd in die verlede, was dit dalk Taize of dalk 'n NG Kerk toe ek 'n kind was, daar waar my reis begin het met die vals Portugese munt wat my pa by die Shell garage vir my gekry het?

Ons kom stort, vul voorraad aan vir die reis wat môre verder gaan. Ons dwaal deur die pragtige stad, maar ons is nog nie toeriste nie. Ons is nog steeds peregrinos wat môre die reis voortsit. Dus liewe vriende, die verhaal is nog nie verby nie. Nou is dit steeds 'Ultreia'. Finesterre lê net 'n Comrades ver - 86.7 km.

Groete

Praktiese raad:
Ons het nooit gesukkel om selfone/kameras te laai nie. Meeste plekke het kragpunte.
Bring werklik min klere. Ek het met twee stelle gestap en een stel vir saans en slaap.
Los so gou moontlik onnodige goed agter, iemand anders kan dit dalk gebruik. Dit is deel van die reis.
Medikasie: ons het niks gebring vir verkoue nie en moes koop. Onthou ook 'n antiseptise salf. Zamboksalf is wonderlik vir lippe, voete en bytplekke. Hier is genoeg apteke. Ansie se bottel hoesstroop was R40, ek vermoed dis wat ons by die huis ook sou betaal.

Friday, July 5, 2013

VAN SANTE IRENE NA MONTO DO GOZO

Dit is 18:00 wyl ek nou hier skryf. Die temperatuur op my selfoon sê dit is 34 grade. Vanmiddag 15:00 was dit 32. Ons kook, wel seker nie heeltemal letterlik nie maar tog ook figuurlik. Die sweet loop my af, maar ons is slegs 4 km van die katedraal waar ons more klaarmaak. Waarom dan nie maar deurstap en vandag klaarmaak nie? Ons wil nie deel wees van die massa mense wat vandag klaar gemaak het nie. Ons hoop om môre oggend om en by 7 uur die laaste 4 km te stap. Verder wil ons goed rus want Sondag stap ons verder. Ons beskou dit ook as 'n voorreg dat ons reis so kon uitdraai.

Spanje het ook nou skoolvakansie, iets wat jy kan oorweeg in jou eie beplanning om die Camino te kom stap. Dit was 'n goeie besluit om bietjie terug te hou sodat die massa eers kon aanbeweeg. Ons het in die begin oor die reen gekla, nou wens ons weer dit wil afkoel. Maak jou gereed dat van Sarria af dit 'n bietjie wild raak op die Camino en hier na Santiago se kant toe erg gekommersialiseerd. Kyk verby dit en bly fokus op jou reis. Moenie oordeel nie, jy beroof jouself van te veel vreugde.

Was hierdie reis die moeite werd? Verseker! Dit was die eerste keer in ons getroude lewe dat ek en Ansie 24/7 vir amper 3 weke in mekaar se geselskap was. Dit was goed om weer op hierdie weg waardering vir mekaar te kon kry, weer 'n nuwe stukkie begrip.

Daar is egter ander lesse wat die Weg ons geleer het. Hierdie lesse kan ek nie nou in woorde omskryf nie, trouens ek dink hulle is op ons harte neergeskryf om later eers na die oppervlakte te kom. Dit was 'n reis na binne waar elke dag se treë genoeg was. Ek wonder nou hier of ons in die lewe nie meer treë in 'n dag wil inpas as wat nodig is nie, en so mis ons soveel vreugde, van die lewe en van mede-pelgrims.

Ons het mense ontmoet, ek dink aan die Italianers wat jy instinktief aanvoel dat jy hierdie mense weer wil sien, trouens dat julle sou kon vriende word. Kan daar, in die toekoms, hierin iets opgesluit lê? Die kans is goed dat ons vir Stephni van Bloemfontein ook weer sal sien. Dit is sommer van die mense met wie ons die reis gedeel het. Dan is daar "Voetjie" van Japan. Ons weet nou nog nie haar naam nie, maar as ons stop, verpoos of oorslaap is die jong meisie met haar seer voete en innemende glimlag daar. Op 'n vreemde manier ontwikkel daar 'n band tussen ons en nog ander soos sy.

Dit was vir my goed om ook oor ons land te reflekteer. Of ek nou by nuwe waarhede uitgekom het, weet ek nie, maar my gewaarwording is dat ek bietjie in 'n naïwe politieke korrekte borrel vasgevang is. Ons land figureer nie op die radarskerm van mense hier nie. Die wat wel iets weet, weet van Mandela wat besig is om te sterf.

So sou ek nog honderde sake kon noem waaroor daar op hierdie weg tyd was om in stilte te reflekteer. In 'n sekere sin was dit dan ook 'n kontemplatiewe reis. Hoe ons more gaan voel wanneer ons die katedraal binnestap, weet ek nie. Dit kan mos nou enige van 'n miljoen emosies wees, maar ons gaan dit embrase as deel van ons reis. Want die reis ís goed.

Praktiese raad:
Daar is baie plekke langs die pad om by te kan eet en drink. Kyk egter mooi na die kaart, dit word daarop aangedui. Maak dan seker dat wanneer jy 'n lang stuk moet stap, daar iets is om te eet en te drink. Hou maar 'n noodvoorraad by jou soos vrugte, koekies, yogirt of brood en kaas. Dit is nie regtig swaar om te dra nie.

Elke persoon se begroting lyk anders, supermarkte het goed gewerk om ons kos daar te koop. Jy kan kos maak in meeste Albergues. Die perigrino's menue is egter net so goeie waarde vir geld. Ons het dit gereeld afgewissel. (Ons werk op 'n begroting).

Water is geen probleem nie. Jy kan orals jou bottel volmaak. Daar is orals drinkbare waterfonteine. Ons het baie water gedrink want dit was geweldig warm. Jy hoef dus nie bottel-water te wil koop nie. Wel dit sal onprakties wees.

Groete en dankie vir die saam reis. Nou begin dit eers.
Suseia!