Search This Blog

Sunday, May 19, 2013

KOSTES

Hoeveel sal dit kos om die Camino te stap?

Ons gaan net die helfte van die Camino stap, ongeveer 400km van Sahagun (18/06/13) tot Santiago (12/07/13). Hoeveel kos dit om die Camino te stap? Dit is seker ‘n vraag wat ons eers aan die einde sal kan beantwoord. Tog moet jy vir die pelgrimstog ‘n begroting van soort hê.

Sommige sê dat die Camino jou €30 ‘n dag kos, of €1 per kilometer. Dit beteken €30 x 20 dae = €600 (R7200 per persoon – R14000 vir ons twee). Nog ‘n som: 400km x €1 = €400 (R8000x2 – R16000).

Uitgawes reeds aangegaan:
Vliegkaartjies – R13000 (Daar is geen direkte vlug na Spanje nie. Ons vlieg via Frankfurt na Madrid.)
Vliegkaartjies na voltooiing van Santiago terug na Madrid vir my en Ansie R2055.
Een aand se slaap in Sahagun van waar ons begin R480.
Twee aande in Santiago waar ons klaar maak: R1080
Visums: R1800 (Maak seker al jou papiere is presies reg soos op die web verduidelik http://www.vfsglobal.com/spain/southafrica/ )

Ek laat die volgende buite rekening; die twee rugrugsakke - 50l sakke R1800, skoene R3000 (wag natuurlik nog vir die skoene) en ander klere-items, stapstokke ens. Indien jy 'n gereelde stapper is, behoort jy reeds baie van die toerusting te hê. Ek en Ansie se laaste stap was die Visrivier, ongeveer 100 jaar gelede.

Ons moet treinkaartjies koop van Madrid na Sahagun van waar ons begin. Verder stap ons mos! Ons gaan wel die bus vat, wanneer ons klaar is, van Santiago na Finisterre. Dit was die “finale” eindpunt waar pelgrims in die see gewas het en hulle klere verbrand het.

Kostes op pad is daaglikse kos en oorslaap by die pelgrimsherberge. Dit is nou waar die R12 per km inkom.

Behalwe om Spaans te probeer leer, wil ek graag die gebed, wat pelgrims sedert die 12de eeu bid, probeer memoriseer:

Here God, U het U dienskneg Abraham uit Ur van die Galdeërs geroep, oor hom gewaak deur al sy swerftogte en die Hebreërs gelei toe hulle die woestyn oorgesteek het. Beskerm nou hierdie kinders van U, ter wille van die liefde vir U Naam, wyl hulle nou die pelgrimstog na Compostela onderneem.
Wees hulle reisgenoot onder weg,
hulle gids by die kruispaaie,
hulle krag in moegheid,
hulle beskerming in gevaar,
hulle beskutting op die weg,
hulle skadu in die hitte,
hulle lig in die donker,
hulle troos in ongemak,
en die stukrag van hulle intensies;
sodat deur U begeleiding
hulle aan die einde van hulle reis veilig mag arriveer en,
verryk deur genade en deugsaamheid,
mag terugkeer na hulle huise
gevul met heling en ewige vreugde
Amen

No comments:

Post a Comment