Search This Blog

Sunday, June 30, 2013

SARRIA

Ons staan oor en rus uit. Ons bederf onsself weer vandag, slaap in 'n dubbelkamer en deel 'n badkamer met ander gaste. Ons is egter die enigstes en het vir die eerste keer privaatheid, en tog mis ons ons mede-pelgrims. Die Franse-groep het vanoggend weer vertrek, ons het hulle in Leon opgetel. Die twee Nederlandse tannies is ook nou vooruit. Vanmiddag stap 'n Duitse dame, wat ons 'n paar dae gelede teen die berg agtergelaat het, by ons verby. Sy kom so pas in Sarria aan. Ons het gister gedink ons is gedaan, maar sy is regtig gedaan. Haar een voet is verbind, sy stap nou met sandale.

Ons sit vanmiddag in die skadu's langs die rivier. Weer klink die, nou al bekende, loflied op van die wind deur die blare, die gedruis van die water en die voëlgesang. Die loflied is jou lied. Ek hoor die woorde van Ubi caritas... Waar daar liefde is en vrede, daar is God die Heer. Die visse wat ek deur die water kan sien dans saam die ewige dans, perichoreses. Die reis is die moeite werd, in 'n oomblik ontdek ek die Vrede. Inderdaad dit is die heel tyd hier by ons, binne ons.

Ons het  toe die besluit geneem; ons stap tot aan die einde van die wêreld, tot daar waar die beeld vir die songod by Finistere opgerig is, daar by die see waar Jakobus gaan aankomdig het dat die ewige Lig gekom het.

Ons betree nou die laaste deel van die skof. Nog ongeveer 120km na Santiago en dan nog ongeveer 90km na Finistere. Ons hoop dat ons krag en liggame sal hou. Die woestynvaders het gesê dat indien jy die liggaam onder beheer kan kry, kan jy ook die innerlike mens onder beheer kry en met sonde afreken.

Onder ons kamervenster speel 'n Spanjaard 'n lied van verlange op sy kitaar. Die dag staan einde se kant toe, maar die reis weet ek nou sal nie by Santiago of by Finnister opou nie. Die reis sal eers daar begin.

Môre na Portomsartin -DV.
Ns. Ek antwoord 'n paar opmerkings op die blog sommer hier.
Dit bly uiters warm, water is geen probleem nie. Daar is meer as genoeg waterpunte/krane. Ansie kom mos uit die Karoo, so sy skep sommer uit die fonteine en waterstrome. Water - heerlik.
Ek dink as ek gister alleen moes stap het ek 09:00 al oorgeslaap. Twee vaar beter as een, as een val kan die ander hom ophelp.
Dankie vir almal wat saam stap, Vrede!

Saturday, June 29, 2013

VAN FONFRIA NA SARRIA

Ek moet eers gister finaal afsluit voor ek by vandag kom. Ons hoogste punt gister was 1300m bo seespieël. Die hoogste berg wat ons nog moes oor was 1600 m. Ons het toe begin sak na 600m. Gisteraand slaap ons toe in die privaat Albergue. Ons aandete is 18:30 en ons eet almal saam aan en groot tafel. Spyskaart teen €9: Plaaslike groente sop, kalfsvleis-bredie met  plaaslike amandeltert as nagereg. Daarmee saam brood en wyn. Ons eet in oordaad, daar is soveel kos dat ons dit nie naastenby kan opeet nie, brood en wyn ook in oorvloed. Ons beker word weereens vol gemaak.

Ek slaap beter as al die vorige nagte, maar dit beteken eintlik nie veel nie. Indien jy 'n ligte slaper is, bring vir jou 'n generiese slaappilletjie saam wat jy sommer by Discem kry. Ek het nie en is spyt daaroor. Ek is vroeg wakker en na koffie en roosterbrood met konfyt (weer vra die tannie of ons nog wil hê) is ons 7 uur op pad, maar vanoggend is ek dood.  Ons is steeds besig om berg af te beweeg. Dit bly seerder en moeiliker as die uitklim. Ons is 9 uur by die eerste dorp, Triacastela. Ek sê vir Ansie ons moet oorslaap. Dis egter heeltemal te vroeg. Die Albergues maak eers 13:00 vir die pelgrims oop.

Ons koop voorraad vir die volgende skof. Die probleem is dat daar bykans geen dorpie op die volgende stuk pad is nie. Ons is besig om deur plase en woude te stap. Sarria lê 21km ver en ek is klaar dood, maar Anise meen ons druk deur. Ons stap deur die  mooiste landskappe en bergpadjies, stop by 'n fontein in die berg waar ek vinnig ons melk in die stroom koud maak en ietsie eet. Ons druk deur. Ultreia!

By 14:30, na ongeveer 29km, strompel ons Sarria binne. By die eerste straatkafee stop ek en bestel twee biere. Hier plaas hulle die bierbekers in die vrieskas. Wanneer hulle die koue bier dan tap, het die boonste lagie fyn ys in - verfrissend. Ons gaan vanaand en more aand hier oorslaap. Nou rus ons eers goed en stap Maandag verder.

Nog praktiese raad: Klere, wat vat jy? So min as moontlik - 3 stelle. Indien jou klere binne 4 ure kan droog word, is hulle reg vir die stap.
Begin betyds oefen met jou klere skoene en rugsak. Indien jy aktief is, draf of stap of gym, gaan dit tot jou voordeel wees. Moenie dink die Camino is 'n walk in the park nie.
Hoeveel keer het ek al oor skoene iets gesê? Indien jy twyfel oor jou skoene, skry ander!

Belangrikste: Hierdie is 'n reis na binne, jy word van pritensie gestroop. Los jou godsdiens, grimeersak en veilige ruimte by die huis. Dit gaan jou terug hou. Jy stap die Camino om weer die ware "jy" raak te loop.
Jou reisgenoot.
NS Dankie vir die boodskappe en reaksie op die blog. Ons waardeer. Jy is welkom om te reageer en vra te vra.

Friday, June 28, 2013

VAN VALCARE NA FONFRIA

Ons het net na 7 uit die dorpie gestap waar ons oorgeslaap het. Een van die interessanthede van die dorpie, asook van 'n paar voor en na die een, is die A6 snelweg wat bo-oor die dorpies gebou is. Wanneer ek se bo-oor, dink eerder aan iets uit 'n Scy-fi fliek. Die snelweg loop daar doer bo oor die bergtoppe, wyl jy hier onder nie daarvan weet nie, behalwe wanneer jy opkyk. Bo snel dit verby en onder leef hulle die vredevolle lewe van die valleie.

Dit is prentjie-mooi wanneer ons die pad begin vat. Die rivier, helder skoon, kabel onder verby. Die son is stadig besig om oor die heuweltoppe te skuif en belig die toring van die eeu-oue kerkie. Huise staan skerp afgeteken teen die groen berghang. Voëls, en die  ganse natuur klink dit my, laat weerklink die eerste akkoorde van hulle loflied. Hulle het geen onsekerheid dat hulle Skepper die skepping vul nie.

Vandag is dit weer berg uit, maar ons het goed gerus en stap flink. Ons staan bo op die wêreld, op hoë plekke laat Hy ons veilig loop. Ons gaan eindelik Galicia binne en dit is voelbaar koeler. Ons begin nou afsak see toe. Nog net 140 km om te gaan, vertel een padtekens.

In 'n klein dorpie sit ons op 'n muur in die skadus van 'n boom. Ons eet koekies en drink melk. 'n Man sit en beman sy wandelstokke wat hy verkoop, die sigaret hang skeef in sy mond, hande gemaklik oor die knieë gevou. Besigheid is nie goed nie, maar dit pla hom nie. 'n Klompie melkkoeie kom verby beweeg. Hulle word vergesel van hulle hond. Hier lyk  my kry jy "bees-honde" wat help met die aanjaag van die koeie. Die boervou wat saam stap, kan jy sien, verstaan haar werk.

Dan, heel agter, 'n jong meisie, seker 20, jaag liggies die laaste koeie aan. "Foeitog", sê ons. Ek vra vir Ansie waarom dink ons dat dit bejammerenswaardig is. Sy kan soveel meer bereik, is die antwoord. En ek wonder of sy nie dalk meer vrede het nie. Waarom definieer ons steeds vrede en geluk met prestasie, geld, sukses ens. Kan sy nie suksesvol wees as 'n volgende generasie wat melk op tafels sit en met vrede lewe nie? Ons reis is nog nie klaar nie.

Vir julle wat in die toekoms gaan kom stap, 'n paar praktiese stukkies inligting:
Jy kan in die Albergues oorlaap teen tussen €5 en €8. Hulle het almal kussings. Los dus jou kussing by die huis. (Ons betaal vanaand vir die eerste keer €8. Dis 'n privaat Albergue en pragtig.
Toiletpapier en wifi is orals en dis gratis.
Ek sou graag 'n "staplaken" wou gehad het, ek slaap nie goed binne 'n slaapsak nie.
Los jou Swiss army knife. Dis net 'n fancy bottel-oopmaker en daar is altyd iemand met een. Sien my raad oor die gadgets vroeër.
Stapstokke is 'n moet, een werk vir my. Ansie verkies twee.
Sy dra 'n moonbag vir al haar goed wat sy kort-kort nodig het.
Sonbrandroom en breerand hoed. Nie 'n petjie nie, jou ore brand blase.
Anti-histamien en sinutabs as jy met alergieë worstel soos ek.

Ons stap steeds goed en geniet dit ongelooflik. Ons begin dink of ons nie tot aan die einde van die wêreld moet stap nie, sal maar sien.
Groete

Thursday, June 27, 2013

VAN CACABELOS NA VEGA DE VALGARCE 2 SONDER FOTO'S

Ons stop vir 'n vinnige koffie en stap deur 'n bouvallige kleiner-as-'n-dorpie. Ons kom op o.a. die klip af met die spreuk: If you can not find peace with in yourself you will never find it. Vrede is binne ons opgesluit, dis mos waar die Koninkryk ook is.

Ons mis die supermark in Villafranca en besluit ook dat ons van daar nie langs die hoofpad na ons volgende dorp gaan stap nie, maar eerder oor die berg. Nie goeie besluit nie. Ons klim vir bykans 12 km teen die berg uit. Ons eet ons laaste proviant en t.s.v gister se gevleuelde woorde, raak ons water op.

Die berg word in vele opsigte 'n reis na binne om die innerlike vrede te soek. Ek en Ansie het mos die stap kom doen vir ons huwelik. Ons stoei rondom 'n paar sake die berg uit. Dit is egter makliker om die berg te uit, as om die berg te af.

Die lewe na buite is maklik om te leef, maar wanneer jy moet afsak in die diepste kamers van die self in om die vrede te soek, is dit 'n pynlike ervaring. Die dissipels wou mos ook bo op die berg bly! Ons vorder treetjie vir treetjie teen die hellings af, al te goed bewus van die pyne in die bene wat protesteer. Maar af moet  ons af.

Ons stop in die dorpie onder die berg, ses ure later en uitgeput. Ons bestel koffie, dis nog nie die einde nie. Ons strompel voort  om bykans 25 km en 8 ure later by ons oornagplek aan te kom. Ons is in vele opsigte gedaan.

Vanaand se slaapplek bestaan uit verskillende sale, ons slaap ses in 'n saal met vensters en lug. Die volgende bergreeks lê reeds môre vir ons en wag. Ons vertrou dat ons die ook sal uit en af. Al hoe nader na die eindpunt en al hoe nader na die groot Vrede.

Ons het vanaand weer die pelgrimseën van die priester van die dorp ontvang. Ons was egter laat vir die diens omdat ek 'n handoek uit 'n kanaal moes red wat daar ingewaai het nadat Ansie dit gewas het.

Deus adjuva nos.

VAN CACABELOS NA VEGA DE VACARCE

Ons het vanoggend net na 07:00 in die pad geval na baie min slaap. Die kamertjies hetr geen vensters nie, was uiters bedompig en langs ons was 'n siek vrou. Ek worstel met die stof en stuifmeel. As ons egter eers aan die stap kom dan stap ons.  Ek sukkel met die tegnologie, so ek poog eersdie foto's plaas en dan die blog skryf.



Wednesday, June 26, 2013

VAN MOLINASECA NA CACABELOS

Ons het na gister se uitmergelende stap eers vanoggend 09:00 in die pad
geval. Ons was beide dood gewees. Ek het vergeet om die oases se foto
gister aan te heg, Sien dus foto no 1. Ons het langs die rivier gebly.

Vanoggend se roete was grootliks teerpad omdat ons deur die stad Ponferada
moes stap. Die gidsboek waarsku dat jy die heel tyd op die uitkyk moet wees
vir die rigtingaanwysers. Êrens is ek onseker en stop eers, kyk weer die
kaart. Die son val in ons gesig en dit is nie reg nie. Ons moet wes stap.
Ansie sê ons moet net agter die ou voor ons aanstap. Ek stap egter nie
agter enige iemand aan nie. Ek wil weet dat die persoon wat voorloop, weet
waarheen ons op pad is.

Op hierdie reis kan jy egter agterkom wie jy kan vertrou met die roete. Dit
is nie noodwendig die persoon met die kaartboek in sy hand nie. Dis die
persoon wat jy kan sien lig reis, gemaklik en doelgerig stap. Hy het bykans
'n ligtheid in die stap. Dit is die persoon wat jy by die waterfontein sal
kry, besig om sy waterbottel vol te maak  en net weer rustig die gids te
bestudeer.

Pasop vir die op die reis wat jou vra om hulle te vertrou. Hulle soek
gewoonlik net bevestiging vir hulle eie onsekerheid. Vra as jy nie weet
nie, verpoos eerder nog 'n paar minute. Op die lang duur maak dit die reis
makliker. Moet ook nie eers wil water drink wanneer jy reeds dors is nie,
drink betyds en drink genoeg. Sorg dat jou waterkruik vol is.

Dit is kersie-tyd in Spanje. Orals is daar kersies te koop. Die bome hang
vol. Ons stap verby die bome en pluk hier en daar een. 'n Boer op sy
trekker wat onder een van die bome staan, wink ons nader. Kom pluk! Ons
pluk 'n klompie. Pluk nog! Nee, ons het genoeg. Hier, vat hierdie tak en
pluk. Ons maak 'n sakkie vol. Hy vul ons beker. Vra van waar ons kom, leef
Mandela  nog, wil hy weet. Ons het kersies vir môre ook.

Ons wou net 20 km stap, maar stap op die einde 25km. By die Albergue waar
ons oorslaap, is daar 'n rivier. Ons gaan swem eers in die koue water, verfissend.

Ons is vanaand terug na die eenvoud. Ons slaap in 'n eenvoudige twee-slaaper met gedeelde storte. Ons eet brood, kaas, koue vleis en Spaanse wyn. Ons reis soos konings.

Gegroet.
Hierdie plasing sukkel, so ek los weereens die fotos's

Tuesday, June 25, 2013

RABANAL NA MOLINASECA

Gisteraand sluit ons die dag af met die Pelgrimsdiens in die kapel. Die diens is mooi, skoon en in eenvoud. In Latyn seën die priester ons weer, dieselfde seën waarmee Sybrand ons verlede Sondag mee weggestuur het. ".....wees U hulle skadu in die hitte, hulle lig in die donker...." Vanoggend toe ons 07:00 vertrek hang die maan in die weste oor ons, terwyl die son in die ooste agter ons skyn. (Sien foto)

Toe raak ons geld op, nee, nie soos in op-op nie, net soos in die beursie is leeg. EN AL DIE DORPIES HET NIE 'N KITSBANK NIE. Dra dus minstens €50 by jou, ten alle tye. Die implikasie is dat ons agter geld moet aanloop. Dit maak jou dood. (Lewensles wat ek sal onthou.) Ons wou op 20 km oorslaap, maar kan nie betaal nie. Dus moes ons 26 km stap.

Nou vra jy wat is 6 km tussen vriende? Wel, wanneer jy reeds 11 km die berg uit is en nou begin sak teen die berg af in 40 grade, dan is dit 'n verskil met 'n "f". Ons stop en vra waar die naaste kitsbank is, alles natuurlik in my beste Spaans. Volgende dorp is die antwoord. Ons rehedreer met twee koues en tappas en stap verder die berg af. Ansie verjaar en sy is glad nie beindruk nie. Ek volg dan die gidsboek!

Ons stap na 15:00 by die oase in en ek bespreek in by die eerste hotel. Dit is darem my vrou se verjaarsdag. Hopelik kan ons vanaand goed uitrus. Ons stap steeds goed met geen groot probleme nie (waarvoor daar nie pille is nie.)

Ons het vanoggend by die tweede gedenkteken verby geloop waar 'n perlgrim in die onlangse verlede oorlede is. Dit is dan wanneer jy dankbaar is dat jy doen wat jy doen. Ek is seker my mede-pelgrim het in vrede gegaan. Die reis berei jou tog ook op 'n manier voor vir die ewige reis.

Ons het ook vanogged by die La Cruz de Ferro ons volgende tree in die proses van aflê voltooi (sien foto). Dit is 'n punt op die roete waar jy simbolies by die kruis 'n klippie plaas. Onthou dis 'n pelgrimsroete waar die eerste pelgrims by die graf van Sint Jakobus hulle finale gebede wou bring om dan by Finister - die einde van die wêreld, hulle klere te verbrand, in die see te swem en terug te keer as nuwe volgelinge.

Ansie los 'n klippie van die Karoo uit haar kinderdae. Ek los 'n Portugese munt wat ek gekry het toe ek 10 was (Dis daardie vals munte wat hulle destyds by Shell uitgegee het waar my pa petrol op die boek ingegooi het teen 5c/l.) Ek hang ook my Koptiese kruisie teen die groot kruis. Dit was waar die pad in my lewe gevurk het toe ek die Koptiese kruis ontdek het.

Dankie vir die gelukwense met Ansie se verjaarsdag en boodskappe van bemoediging. Ons waarder dit. Ewald jy is in my gedates. Jy het mos die reis voltooi. My broer hoe het jy dit voltooi met daardie skoene? Hier sien ek nog gereeld skoene wat agter gelaat word.

Vannag rus ons, hopelik, goed.
Ons reis goed.
Ultreia!
Suseia!

Monday, June 24, 2013

VAN ASTORGA NA RABANAL

Ons het vandag begin om die berg oor te steek na Galisio. Dit was 'n klim van 21 km. Ons bereik egter eers môre die hoogste punt van ons roete. Inderdaad, wanneer jy dink jy het 'n hoogtepunt bereik, moenie daar stop nie. Daar lê nog baie voor.

Ons slaap oor by 'n Albergue wat deur die Benidiktyne beman en bestuur word. Uiters skoon en gasvry, met middag tee wat 16:30 bedien was. Die Albergues bestaan uit slaapsale met stapel-beddens. Alles word gedeel - kombuis, storte en slaapsale. Daar kan tot meer as 100 by so 'n Albergue oorbly. Ons het vooraf op die internet - Conformity of St James - 'n lys gekry van die wat hulle aanbeveel. Dit bly 'n aanpassing om so met ander saam te leef. Dan dink ek aan die gemeente in Handelinge wat alles gedeel het..... (ek het op hierdie reis al meer as een maal myself gevra hoe ver mis ons nie die punt nie.)

Ons stap die berg uit en vind weer hierdie skoen (sien foto). Hoe gaan hierdie persoon die volgende 242 km na Santiago stap? Duidelik het hierdie persoon besluit dat dit wat hy/sy die meeste nodig het vir die reis, hom/haar terughou. Ja, so is dit mos; dit wat ek meen ek die meeste nodig het in die lewe, is dikwels die dinge wat my die meeste terughou. Laai af! Reis lig! Dit is tog die reis na binne wat die meeste vreugde bring. Daarvoor moet jy egter die ego aflê. Ai! Ons het die bedompige ego tog so nodig, terwyl die ware ek kan sweef op hoë plekke.

Ons is môre reeds 'n week op die pad, het 138 km gestap en daar is nog 242 km oor. Ons stap tot dusver goed, ons is dankbaar.

Groete.
NS Dankie vir almal se kommentaar op die blok en "likes" op FB. Ons waardeer.

Sunday, June 23, 2013

VAN ORBIGO NA ASTORGA

Dit is 18:00 en die son sit hoog. Vandag was 'n rusdag. Ons het baie rustig die 15km na Astorga gestap, om hier te kom en alles gesluit te vind. Dit is Sondag. Selfs die katedraal is toe. Nee, ek weet dit maak nie sin nie.

Ons stap deur die mooiste landskappe, boerderye en plattelandse dorpies. Ons verpoos in 'n kerk (Katoliek). Die kerk is vol, dit lyk soos 'n gewone Sondagdiens by die huis. 'n Baba word gedoop, die Priester lei sommer self die voorsang.

Teen een van die koppies uit, vind ons aan die bo-kant 'n klein oase. Vrywillgers beman 'n stalletjie met  ete en  drinke. Ek skop skoene uit, drink koffie en eet droë vrugte. Later sê Ansie ek moet vir haar preek. Sy kan nie haar Sondagpreek mis nie. Ek sê dat ons die liturgie van die lewe moet herdenk. Ons het pas bo op die bult die Eucharistie gevier. Christus het weer mens geword in 'n jong meisie wat met vreugde ons bedien met iets te ete en te drinke.

"Of dalk het Maria aan ons verskyn", spot ek met Ansie. "Nee, eerder 'n Engel", antwoord sy. "Ja, vir julle charismate kan dit hoogstens 'n Engel wees." Ons stap teen die styl berg Astorga binne. Kry slaapplek, ek vra of hulle dalk 'n privaatkamer het. "Hierdie is nie 'n hotel nie!" antwoord die dame. Dis reg so, ons vat die kamer wat ons met twee ander persone deel.

Vanaand eet ons in, hoender en chips wat ons by 'n kroeg koop! Ek vra uit na 'n wynvat se inhoud, hy skink en laat my proe. Waarom smaak alles hier so lekker? Ons eet heerlik in die eetsaal van die Albergue en kon ook ons maaltyd met 'n mede-pelgrim deel.

Ansie bekommer haar oor 'n siek kind (19) by die huis, dis mos hoe 'n ma is.

Ons lywe is seer en môre steek ons 'n berg oor! Gaan ons hou? Dit is wat ons aan die einde van elke dag vra. Of ons nou al iets moet sê oor skoene vir die wat beplan om die Camino te stap, weet ek nog nie. Wat ek wel weet is dat indien ons skoene nie waterdig was nie, het ons die eerste dag moeilikheid gehad. My voete is seer, maar nie ek of Ansie het blase nie. Hier sit mense wie se voete soos steak-tartare lyk. Maar laat ek eerder by Santiago oor skoene praat.

Maak egter seker jy koop goeie skoene, een nommer groter as wat jy dra. Hulle word gemerk in grotes "US" en "UK". "US"- dan moet dit twee grootes goter as jou normale groote wees. "UK" - een nommer groter. Die prys gaan beslis die kwalitit bepaal. Onthou egter ook dat jy nie die Andes gaan oorsteek nie. Dra 'n hoed wat jou ore toe hou en bring sonbrandroom.

Die beste spoed is jou eie spoed (teen 'n paal langs die pad).
Ultreia.

Saturday, June 22, 2013

LA VIREGN DEL CAMINO NA VILLAR DE MAZARIFE - NEE! Hospital de Orbigo

Na 'n relatief goeie nagrus, val ons 07:00 in die pad. Sommiges is reeds uit, hulle het al 05:30 opgestaan. Die plan was om by Mazarife oor te slaap - 15 km. Ons het egter, na piekniek langs die pad, net voor 11 vm daar aangekom. Ons drink koffie en besluit om nog 10 km te stap en dan by Villavente oor te slaap. Daar gekom stap ons deur die dorp om te kyk hoe lyk die Molino Galochas. Dit is 'n ou graanmeul wat in 'n gastehuis omskep is.

Dit lê ongeveer 1km buite die dorp. 'n Pragtige plek wat oor die rivier gebou is. Kostes - €95 vir 'n kamer met aandete, bed en ontbyt. Dis bo ons vuurmaakplek, ons betaal tans tussen €5-7 per bed. "Hoe ver is die volgende dorp?" vra Ansie. 3 km - antwoord hulle. Ansie: "Kom ons stap." Ek: "Dos serveca, por favor!" Sy bedien ons met twee koue biere met soutbeskuitjies, dra later 'n appelbrood aan. Ons geniet die skoonheid en gasvryheid, sy maak ons beker vol.

Ons stap die volgende 3 km na die dorp Hospital de Orbigo en nog meer as 'n km na die Albergue San Migual waar ons oorslaap. Ons word hartlik verwelkom: "Trek uit julle skoene, haal af julle rugsakke, kry 'n slukkie wyn, welkom!" Ons stort, was klere en val uitgeput op ons beddens neer. Ons gaan eet die pelgrimspspyskaart by 'n restaurant en geniet die geure van die Spaanse disse: Vir Ansie vir voorgereg, pasta met kaas en vir my 'n bord koue vleis met kaas. Daarmee saam brood en 'n bottel wyn. Hoofgereg vir Ansie; vis en slaai, ek kies gebraaide vark skywe met rooi-peper en chips. Met nagereg... alles vir €9 per persoon.

Ek dink vanoggend aan die reis toe ons so sukkel met ons rugsakke. Ons dra steeds te veel saam, onnodig. So is dit met die lewensreis ook. Ons dra te  veel en dit hou ons terug. Om te laat los en te laat gaan, is egter nie so maklik nie.

Ons lywe is seer met nuwe pyne daagliks, tog is ons dankbaar dat ons voete hou. Vir pyn kan jy 'n pilletjie sluk, aan blase is daar nie salf te smeeer nie. Ons hoop en vertrou dat ons lywe sal hou. Aan ons vyande - vergewe ons en aan ons kinders - onthou ons.

Ons probeer reflekteer op die reis, dis egter nog te vroeg.
Ultreia! Tot môre - DV.
Ns. Die paar tekkies kry ons langs die pad. Duidelik het die persoon besluit dis sy skoene wat hom terug hou.

Friday, June 21, 2013

MANSILLA VIA LEON NA LA VIRGEN DEL CAMINO

Ons het vooraf reeds besluit, op aanbeveling van John Brierley se gids, (die  enigste gids oor die Camino wat jy nodig het) om met die bus na Leon te ry. Ons lywe was gedaan na gister se lang stap. Brierly sê nogal jou ego kan jou verhinder om die bus te neem, maar dit is dieselfde ego wat jou in die wiele kan ry om nie jou doelwit te bereik nie. Moenie na jou ego luister nie, luister na rede en die inset van ander.

Leon is 'n goot stad, dus net na die groot katedraal gaan kyk, gekoffie en toe die ongeveer 10 km uit die stad gestap om by La Virgen oor te slaap. Maria het hier in 1505 verskyn.

Ons stap tans nog relatief goed. Moet jou egter nie bekommer oor môre se pyne of jou ou pyne nie. Elke dag het genoeg van sy eie. Die roetine is om slaapplek te kry, lekker te stort, klere te was en 'n roompie op die seer plekke in te vryf. Dan gaan loop ons deur die dorp, kyk wat te sien is en koop kos vir die aand. So ver het die albergues almal kombuise waar jy kos kan voorberei. Ons slaap 24 in 'n saal, mans en vroue deurmekaar. Maak seker jy kan bo-op 'n stapelbed slaap.

Op pad uit Leon uit stap ons by sulke huisies verby soos in die fliek "The Hobit, the unexpected journey". Ons draai af en kry 'n omie wat buite besig is om iets te eet. Ek vra uit na die huisies. Hy beduie, maar my Spaans is te gebrekkig om werklik te verstaan. Hy nooi ons in en ons betree 'n nuwe vreemde wêreld waaruit ek aflei hy iets soos 'n wynkelder bedryf. Daar is selfs 'n kombuisie met vuurhert. Hy skink vir ons 'n glasie vaaljapie. Inderdaad die onverwagse op die reis.

Hier waar ons oorbly is 'n nuwe katedraal gebou, bo-oor die oorspronklike een. Voor die ingang is hierdie kolosale brons beelde van die 12 apostels met Maria in die middel, verhewe bo die ander. Jakobus staan derde van regs met die staf in die hand. Hy kyk in die rigting van Santiago. Ons kyk stadig maar seker ook in dié rigting. Ons verpoos in die kerk en ek bid weer vir bekendes by die huis en die pelgrimsgebed. Elke tree wat ons hier gee behoort 'n gebed om vrede en aanvaarding van ander te wees. Mag dit to so wees.

Tot weer (hopelik) môre.

Thursday, June 20, 2013

DAG 2 HERMANILLOS NA MANSILLA

Ons beker is toe gister en vanoggend deur die tannie wat die Albergie bestuur, vol gemaak. Sy het ons gisteraand in die bed kom nagsê en vanoggend voor ons vertrek het, omhels, gedruk en "Buen Camino" toegewens. En toe begin die stap, meer as 25 km! Dit het egter niks gereen nie en ons kon ons kouse agter op ons rugsakke droogkry.

Ons is dankbaar dat na twee dae nog geen blase het nie, maar moeg en seer inderdaad. Ons reflekteer op die pad oor die reis, hoe die moegheid jou stroop en jy werklik in die oomblik leef. Dan is die klein vreugdetjies te vind in die neerval langs 'n vervalle skuur en brood, kaas en vleis se eet en 'n medepelgrim wat verby kom en jou 'n bier offer.

Ons sit nou in Mansilla by 'n munisipale albergue. Hier is plek vir 72 pegrims en dit is vol. Weereens uiters verbaas. Dit is vreugde en samesyn hier in die binnehof waar pelgrims kuier, sing en saam kos maak om met mekaar te deel.

Toe ons vanmidddag hier aankom, word ons bekers weer volgemaak. Voor my is talle jongmense wat in bespreek. Ons pak af en ek verduidelik vir die dame dat ek asb die wittebrood-suite saam met my vrou wil hê. Sy vra: "met see-uitsig?", ja en met 'n maseuse. Sy glimlag, stempel ons spelgrimspaspoorte en roep dan uit. "But you are a priest!", Yes but  I am protestant, antwoord ek, sy stempel Ansie se paspoort, gee aan ons 'n sleutel en beduie waarheen. Ons kry ons eie privaatkamer met badkamer!

Ons maak vanaand 'n seekospasta met plaaslike vino tinto - heerlik. Ek herinner my telkens om die eenvoud in die oomblik te beleef. Hoe het die eerste pelgrims die tog oorleef met hulle kalbassie water en dalk 'n stukke brood van wat van die eucharistie êrens die oggend oorgbely het?

Tot hopelik môre. Ultreia!

Wednesday, June 19, 2013

SAHAGUN NA HERMANILLOS DE LA CALZADA

Ons het heerlik geslaap. Rustige ontbyt en toe moes ons die pad vat. Dit reën! Ons het ongeveer 12 km om te stap. Ons het besluit om rustig te begin. Die roete wat ons vandag loop is die een wat minder verkeer dra - Via Romana. Ons poog om aan alles gewoond te raak, omgewing sowel as toerusting, dis koud en nat, maar ons is mos hier vir die belewenis.

Sommige van die perigrinos is nie eens lus om te groet nie, maar "moenie hulle oordeel nie, wees op die uitkyk vir die wat jou beker die dag moet volmaak." Ons ontmoet twee Amerikaners, 'n man en vrou, hulle is seker ons ouderdom, maak 'n geselsie en stap verder wyl ons eers by 'n kerk stil raak en mense by die huis aan die Vader opdra.

Later kry ons 'n Finse juffrou, sy beweeg. Ons ontmoet haar weer by die munisipale herberg vanwaar ek nou gou die blog ding kan doen. Ons is na dag een en 13 km gedaan. Die stort is warm, mense vriendelik en ons eet die heerlikste perigrino spyskaart (Ek wou nog altyd haasvleis probeer). Ons deel ons slaapplek in ons oop-kamer met nog twee ander. Waar ek hier in die eetkamer sit, hoor ek reeds hoe snork een - 17:00.

Wat ek oor die munisipale Albergue gelees het, lyk die een baie goed. Privaatheid is min, maar die tannie wat na alles omsien is vriendelik na 'n aanvanklike misverstand wat ek nou nog nie weet wat gebeur het nie. Duidelik voel sy sleg oor die saak want sy het nou reeds twee keer my aan die arm kom vryf terwyl sy iets verduidelik. Leer betyds Spaans, dit maak dit soveel makliker.

Tot môre (as daar internet is).

In transito

Maandag 17 Junie breek aan en ons kinders laai my en Johan om 14:00 by die Gautreinstasie af. Ons vlug is eers 19:00 wat ons genoeg tyd by die lughawe gee om sakke te rap en rustig aan die ander kant te gaan sit. Ek verbaas my steeds aan mense se goedheid jeens ons. Een wil ons borg om in die Slow Lounge te gaan ontspan, 'n vriend bel om ons te versoek dat sou enige iets in Spanje verkeerd loop, ons hom dadelik sal bel. Ons is nie alleen op hierdie reis nie.

In Madrid, bykans 24 uur later, laai ons die ekstra bagasie af by die hotel waar ons aan die einde van ons Camino gaan oorslaap. Ons trein na Sahagun, van waar ons begin, vertrek eers later. Ek spaar jou die detail, behalwe om te sê dat ons by die tyd gedaan is. By Sahagun aangekom is dit afpak, vinnige koffie om teen 23:00 die lig af te sit. O, ja! Dit reën.

Monday, June 17, 2013

CAMINO - TYD OM TE VERTREK

Dit is sulke tyd! Tyd om te groet en te vertrek. Gister het die “priester” ons toe geseën met die pelgrimsgebed. Dankie Sybrand, ons waardeer dit. Soveel mense het ons sterkte toe gewens. Ons wil glo dat dit sal goed gaan, dat ons reis geseënd sal wees. Ons poog om julle op hoogte te hou van ons vordering.

Dus groet ons eers.

"Ultreia, Suseia, Deus adjuva nos"

Voorwaarts, opwaarts, God met ons!

 

 

 

Thursday, June 13, 2013

GEREED OM TE VERTREK



So, gister val Ewald en Danie, twee kolegas van Modimolle hier by my in. Ewald het al die Camino gestap, ek het al vroeër verwys na die raad wat ek by hom gekry het. Ons drink koffie en kuier oor 'n klomp sake, maar veral die Camino. Ewald gee vir oulaas raad: “Luister na jou liggaam, as jy moet rus, doen dit. Indien jy die bus moet vat om te herstel vat die bus, onthou om jou Camino-paspoort gereeld te stempel.” Daar is steeds te veel vrae wat ek het om te vra. Ons sal dit later oor die net doen.

Ons praat weer oor die doel van die stap. Om jou rugsak te dra is deel van die simboliese dra van jou “pakkie”. Die Camino gaan oor aflê en nuut optel, opstaan en verder reis. Voor hulle vertrek, bid Ewald eers vir my. Hy bid dat dit vir my en Ansie 'n geseënde en veilige reis sal wees. Skielik in die oomblik beleef ek iets van die misterie van die reis, een pelgrim wat 'n ander pelgrim onvoorwaardelik aan die Here opdra...

Ons sakke is gepak, alles is reg. Nou is dit die laaste paar detail dingetjies wat aandag moet kry. 'n Vriendin bring 'n pakkie maag-medisyne, eetgoedjies en 'n klein buisie wondergom. Daar word geld in my bankrekening inbetaal van 'n onverwagse oord. Ons het twee nagte se akkommodasie in 'n pragtige hotel in Madrid geskenk gekry. Ons sal dit benut aan die einde van ons reis. So seën die Here ons reeds met hierdie reis wat nog nie eens begin het nie, of dalk het dit?

Dankie aan almal wat vir ons bid, goeie wens toe wens en ons reis op verskeie maniere besonders maak. Ons hoop ons sal julle op hoogte kan hou soos ons reis vorder.

Friday, June 7, 2013

WAAROM DIE CAMINO

Mense vra my nou twee vrae: Waarom gaan jy dit doen en die wat meer voorbarig is: Hoe kry jy dit reg?

Waarom doen ons dit?
Toe ons ongeveer drie jaar gelede daarvan gehoor het, het dit na iets geklink om te doen. Later het ons besluit, kom ons doen dit. Soos ons begin voorberei het vir die stap, het ek al hoe meer bewus geword van die feit dat mense wat so 'n reis onderneem nie onveranderd daarvan terug kom nie. Ek onthou my eerste reis na die kloosters in Egipte se westelike woestyn in 1997. Ek het teruggekom anders as wat ek gegaan het. In 2004 het ek weer teruggekeer na die kloosters van Pishoy, Surian en Baramos. Dit het my lewe in so 'n mate verander dat dit my totale spiritualiteit (hoe ek God beleef) radikaal in 'n nuwe koers gestuur het.

Ek en Ansie betree 'n nuwe fase in ons lewens. Ons kinders is op Universiteit en heel moontlik oor ongeveer twee jaar uit die huis uit. Dan is dit net ons twee. Ons het dus besluit om hierdie reis te onderneem met die oog op ons huwelik. Ons is bykans 22 jaar getroud. Daar lê moontlik nog 22 jaar voor. Die vraag is: Kan die volgende 22 jaar beter wees as die eerste 22 jaar? Nou hoe beplan jy om dit te maak werk op die Camino? Ek dink nie jy kan dit beplan nie. Dit is die intensie van ons harte en die begeerte van ons gees. Ten diepste wil ons soos die eerste pelgrims ook die reis onderneem met 'n begeerte om af te lê en iets nuuts op te neem. Dit is dus ons as reisgenote se reis saam met die Reisgenoot.

Wat hierby aansluit is dat dit 'n spirituele reis is. Nee, moet nie dink dit is nou hierdie “diep, ernstige, swaarmoedige saak” nie. 'n Reis gaan mos om vreugde, ervaring en belewenis. Die vreugde is hopelik geleë in die eenvoud van die reis, die minimalistiese oor die weg kom met min klere in jou sak (en met die Rand-Euro met minder geld ook) en die deel van die lewe met jou reisgenoot op 'n gemaklike, eenvoudige en vreugdevolle manier. Dit is nou as die pyne in die knieë en heupie nie die pret bederf nie. Dit is daarom 'n bestekopname oor waar ons onsself nou op ons lewensreis bevind en of dit tyd is vir aanpassings.

Hoe kry julle dit reg?
Wel dis seker soos om die Comrades te hardloop of enige ander groot doelwit. Dit begin met 'n idee of 'n droom. Daarna besef jy die droom moet afgebreek word in haalbare doelwitte en dan moet jy jou doelwitte stukkie vir stukkie opbreek in klein haalbare take wat oor 'n periode van tyd konstant aan gewerk en afgehandel moet word. Toe ons begin droom het, het Ansie onmiddellik die spaarplan in werking gestel. (Moet nooit geld as 'n verskoning gebruik waarom jy nie 'n droom kan koester nie.) Moet ook nie vir jou self sê dit gaan my Rxx,00 kos nie, ek het dit nie nou nie. Behalwe as geld vir jou geen probleem is nie, het min mense die finansiële vermoë om onmiddellik 'n groot klomp geld neer te sit. Oor 'n periode van tyd begin jy dit gewoon te reël en wanneer jy so 6 maande voor die beplande stap die vliegtuigkaartjies gekoop het, weet jy daar is nou geen omdraai nie. Dan is daar nog ses maande om te spaar en oor 'n periode van tyd sekere betalings te maak. Onthou ook dat terwyl jy stap, jy dit wat jy by die huis aan vervoer en kos sou spandeer nou op die Camino spandeer.

Doen jou eie reisreëlings oor die internet. Los die reisagente. Hulle het nie geduld om ure te soek na die beste vlieg-opsies teen die beste kostes nie. Jy kan alles self doen en nog 'n paar rand kommissie spaar. Doen jou verblyfreëlings en ander reisreëlings self oor die internet. Indien jy hierdie blog lees, kan jy dit doen.

“......sodat deur U begeleiding
hulle aan die einde van hulle reis veilig mag arriveer en,
verryk deur genade en deugsaamheid,
mag terugkeer na hulle huise
gevul met heling en ewige vreugde
Amen”

Tuesday, June 4, 2013

GADGETS, ROETES EN INPAK

Ons het die rugsakke gepak om die gewig te bepaal. My sak is 9 kg wat 1kg water insluit en drie stelle klere. Ansie se sak weeg ook 9kg met vier stelle klere!

Waterbottels
Ek gaan twee 500ml bottels dra. Die raad wat ek gekry het, is gebruik sommer 'n weggooi bottel wat jy by enige winkel koop. Maak seker van die tuit van die bottel dat hy lekker drink. Die voordeel, hulle kraak gewoonlik nie maklik nie, kan weg gegooi word en is lig. Nadele, jy kan nie jou water koel hou nie. Ek het dus twee 500ml waters by Woolies gekoop. Ek hou van die sagte plastiek en drink maklik met die tuit wat toe druk.

Gadgets
Weereens sal ons eers na die tyd weet of die goed gewerk het. Ek het twee Leatherman  produkte gekoop, 'n basiese knipmes en 'n tool met 'n skêr, kort lem, vyl en tweezer in. Laasgenoemde is vir eerstehulp doeleindes, pleisters ens. 'n Mes is een van die basiese gereedskapstukke wat moet saam. Hoekom Leatherman? Wel hulle is uiters lig en gewaarborg. Die ander mes was sommer een met 'n langer lem vir brood en kaas se sny. Ansie reken ek wil net speelgoed saam vat.

Kaarte
Dit is belangrik dat jy goed sal bepaal van waar jy wil stap. Indien jy nie die volle roete wil stap nie, moet jy êrens in die middel begin. Dit lyk vir my of dit redelik maklik is om by meeste van die dorpe uit te kom, hetsy reguit van Madrid lughawe of van een van die stasies in Madrid. Onthou daar is nie meer direkte vlugte na Madrid nie. Jy moet dus êrens oorstop. Lufthansa was ons beste opsie. Maak egter seker vooraf dat jy weet hoe om van die lughawe by die stasie te kom en van watter stasie jou trein vertrek. Bespreek die treinkaartjie van hier af oor die internet www.renfe.com . Hoe langer jy vooraf bespreek hoe goedkoper. Besluit ook hoe jy van Santiago weer terug kom in Madrid. Ons vlieg terug, http://www.ryanair.com/en was goedkoper as die trein.

Skoene
Die skoene voel op hierdie stadium goed. Les geleer – enige paar stapskoene gaan nie werk nie. Prysgewys kan jy maar begin kyk vanaf R1000, dit strek egter tot R25000.

Lesse reeds geleer
Toets alles vooraf! Ek het nou al 'n pak pleisters na Dischem terug gevat omdat dit nie plak nie. Maak seker jy koop ordentlike toerusting. Jy hoef nie die duurste te koop nie, maar jy wil nie aan daardie kant gaan sukkel nie. Maar nou ja, ons het nog niks getoets voordat ons nie die eerste tree op die Camino gegee het nie.

Ons vlieg oor 13 dae.

"Ultreia, Suseia, Deus adjuva nos"