Search This Blog

Thursday, July 11, 2013

Die einde

VAN CORCUBION NA FINISTERRE - NA DIE EINDE VAN DIE WÊRELD

En toe is dit die einde! Kom ons begin egter by gister oggend want ons dag het gister 23:00 geeindig.

Na die gewone nag van slaap saam met ander pelgrims, is ons met koffie en roosterbrood bedien. Dit was goed om die verskillende pelgrims se stories en redes vir die Camino aan te hoor. Dalk kan ek later daarvan vertel.

Ons is omtrent 10:00 by Finisterre. Die laaste twee kilometer stap ons kaalvoet oor die mooiste strand. In Finisterre gaan sit ons eers vir koffie en die wi-fi ding. Wie loop ons raak, die Amerikaner wat ons in Melide agtergelaat het. Ons gesels eers weer oor die reis en sy reis in besonder.

Ons het besluit om eers vanaand die reis af te sluit by die verste punt wes. Daar wil ons die son sien ondergaan. Ons bespreek in by die Albergue, kry twee koues en stap strand toe. Die water is helend op ons moeë lywe. Ons drentel deur die dorp, rus 'n bietjie en kook vir ou laas pasta met mossels uit die dop, tuna en parmasankaas en natuurlik 2010 oesjaar. (Wyn is goedkoop!). En toe is dit tyd.

Ons trek ons stapskoene aan wat ons getrou gedien het en stap 20:00 die bult uit na die ligtoring by Cabo de Finisterra. Op pad keer 'n vrou ons voor. Sanet kom van die Kaap en het die hele roete alleen gestap. Sy is op pad terug en wil nie alleen die berg af in die donker nie. Sanet deel vinnig haar storie. Sy het haar geld, foon en bankkaarte op haar reis verloor. Sy het egter aanhou stap. Daar was genoeg engele om te help en te voorsien. Sy het egter geen foto's om te wys nie, want die foonkamera is ook weg.

Jy stap saam met ons terug, kom! Ons neem die foto's waar jy ook al wil staan en e-mail dit vir jou. Sy stap weer saam met ons tot by die einde. By die bordjie "00.00 km" stop ons, ons het nooit beplan om tot hier te stap nie, maar die reis het ons hier uitgebring. Ook vir hierdie deel van die reis kry ons 'n Compostella.

By die kruis op die verste punt plaas ek my Taize-kruisie. Dit was die ander groot kruispunt in my lewe. Die oomblik is vir my en Ansie emosioneel. Ons het goedheid en genade beleef. Ons was nie op weg nie, die Weg was met ons. Soos iemand skryf: "Ek was aan die einde van die wêreld, maar die Camino gaan nog verder." Ons sluit die reis af op 'n besondere persoonlike manier. Ons deel dit met Sanet en ek sing Ubi caritas...

Dan sit ons en wag vir die son om hier om en by 22:00 onder te gaan. Vir 'n uur lank kyk ons na die son, hoe die kleure verander, hoe sy vorm verander. Ek dink weer oor hoe bevoorreg ons is om hier waar Jakobus die evangelie gebring het, te besef die Son van geregtigheid skyn oor ons.

Ons stap saam die berg af, die reis is voltooi. Bykans 500km en 22 dae later, sonder dat ons een dag nie in staat was om te kon stap nie. Ons kon elke dag eet en slaap, ons was elke dag meer bevoorreg as baie ander.

Van vandag af is ons toeriste, of dalk ook nie.? Ons is egter vir eers klaar gestap en klaar in 'n slaapsak geslaap. Ons rus vandag in hierdie pragtige dorpie, dan twee dae in Santiago en twee dae in Madrid. Ek sal later die blog opvolg wanneer ek bietjie meer reflekteer, maar vir eers weer dankie aan almal wat saam gereis het, opmerkings op die blog geplaas het en vir soveel gelukwense.

Johan en Ansie
Ultreia, suseia, Deus adjuva nos!

Wednesday, July 10, 2013

VAN OLVEIROA NA CEE EN CORCUBION

Vanoggend wou ons nie opstaan nie. Ons kliphuisie was heerlik koel en dit was die stilste nag in 'n baie lang tyd. Ons is egter vroeg op die pad na 'n ontbyt van koffie en brood met konfyt. Ons stap die dorpie uit en nou sien ons eers werklik hoe groot windkrag hier is. Ek weet van die drie windlaaiers by Darling in die Kaap. Hier op die bergtoppe, so ver soos die oog kan sien, staan hulle ingeryg. Waarom nie meer daarvan in  SA nie?

Ons stop 5 km later vir 'n onbytaanvuller, koffie en koek. Daar lê ongeveer 13 km voor ons met geen stopplekke nie. Ons stap verby 18de eeuse kruise en kerke. Ek probeer van die water met helende uitwerking by San Pedro Martir en dan sien ons die Atlantiese Oseaan voor ons. Ons het inderdaad tot by die see gestap.

Ons gesels onderweg oor ons belewenis van hierdie reis, ons praat oor God, godsdienste en geloof. Ek sê vir Ansie dat ek vermoed haar Moslem kollega verstaan dalk meer van  die pelgrimsreis waarmee ons besig is, juis omdat dit vir hulle so belangrik is om die pelgrimstog na Mekka te onderneem.

Ons besluit om in Corcubion oor te bly, maar die enigste verblyf is nog 'n km weer die berg uit. Ons slaap vanaand oor in Alto San Roque. Die plek was gebou na die Prestige olieramp, was dit in 2002? Vrywilligers bestuur die albergue en ons ontmoet vir Jose en Josefine.  Jose het reeds twee boeke oor die Camino geskryf en hy haal sy notaboek uit wanneer hy ons uitvra oor ons redes. Waarom stap die protestantse priester en sy vrou die Camino?

Die pelgrims wat die een na die ander hier inkom, het almal een doel voor oë: Hulle wil die son sien sak aan die einde van die wêreld. Dan is die pelgrimstog eers voltooi, of is dit? Josefine verduidelik hoe die Camino haar lewe verander het en sy  nou as vrywillger uit Swede in haar verloftyd die albergue kom bestuur. Sy en José kook vanaand vir ons almal. Hulle doen moeite om ons almal, uit versillende lande, tuis te laat voel.

Ons praat oor die innerlike reis, hoe die reis jou lewe impakteer, die lesse wat die Weg jou leer, maar dalk eers later na vore sal kom. More, DV, stap ons die laaste ongeveer 12 km. Ons sal dit soos elke dag weer met dankbaarheid stap. Dankbaar vir bykans 500km sonder enige groot probleme wat ons verhinder het om te kan stap.

Ons is dankbaar vir Sy groot genade.

Êrens laat iemand hierdie nota agter: "Here as ek nie in U glo nie, waarom volg U my elke dag op hierdie weg?" Dalk som dit die Camino die beste op.

Monday, July 8, 2013

VAN NEGREIRA NA OLIVEIROA

Wat jy ook al beplan op jou stap, moet net nooit in Negreira se munisipale Albergue oorslaap nie. Dit is 'n sauna! Tot hoeveel die temperatuur in die plek gestyg het, kan ek nie eers raai nie. Slaap was onmoontlik en toe die reisiger, wat laaste ingekom het gisteraand, se wekker 05:00 afgaan, maak ek vir Anise wakker (Dit het sy voordele om doof te wees.)

Ons stap net voor 6 in die donker uit. My koplamp soek die merkers, die nou al bekende geel pyle, en binne 'n paar minute stap ons die donker woudpaadjie teen die berg uit. Wat 'n belewenis, dis koel, doodstil en net die lig van die koplamp om die roete aan te dui.

Ons wou weer net ongeveer 22km stap. Die feit dat ons 06:00 op die pad is, beteken ons is by ons heeltemal te vroeg by ons volgende slaapplek , weer tussen niks en nerens. Ons besluit om deur te druk en stap 33km tot by Olveiroa. Hoe warm was dit? 19:00 in die restaurant lees die temperatuurmeter 38 grade. Ons drink bottels water uit, wat gelukkig volop is. Vanmiddag het ons weer sommer by 'n plaashuis se erf in gestap en daar getap.

Ek het natuurlik toe ons hier aankom nie lus vir 'n munisipale albergue nie en stop by die Pension en vra om 'n kamer te sien - €30 vir 'n kamer met 'n dubbelbed, die badkamer word gedeel. Die privaat  Albergue is €24 vir ons twee. Ansie sê ons moet na die munisipale Albergue gaan kyk.

Nou liewe vriende, in meer as 40 grade en doodmoeg, wil jy nou of met jou vrou argumenteer, of die raad vat wat die Amerikaanse vriend gegee het: Vir 'n gelukkige huwelik "alway say yes dear".

Die munisipale Albergue is om die draai. Dit is ou kliphuisies wat herstel is en omskep is in verblyfeenhede. Die dame aan diens het 'n boodskap op die toonbank gelos: Kies vir jou 'n bed, ek is 19:00 terug dan kan jy kom betaal. Ons stap deur en kyk. Aan die oorkant van die pad is 'n huisie, deel van die opset met privaatbadkamer, twee beddens onder en drie bo. Ansie reken ons vat hierdie beddens. Ek wys haar daarop dat indien ek na die badkamer kyk, die eenheid vir gestremdes bedoel is. "Het jy enige gestremdes op die pad gesien?" vra sy.

Ons pak af, stort, was klere en kry 'n koue bier. Die kroegman maak ons beker vol deur brood en kouevleis saam te gee - geen ekstra kostes nie - tappas! Ons gaan lê eers 'n rukkie en gaan eet toe by die privaat Albergue se restaurant die Peregrinos menue. Die kos is te veel, maar die eienaar kom vra of ons nog wil hê.

Dis 19:00 en ek moet gaan betaal. Die dame by ontvangs erken ons SA-pelrgimspaspoorte en vra wat ons bednommers is. Ek sê "die honeymoon suite". Sy sê, "O, julle is in die klein eenheid, geen probleem, geniet." Sy maak ons beker verder vol. Hierdie kliphuisies is heerlik koel binne en dit is net ek en Ansie - privaatheid! Ons hoop op 'n goeie nagrus na 'n lang dag.

Ons praat weer vandag oor die reis. Wat het ons alles van mekaar geleer en wat kan ons vir die toekoms saamneem? Eintlik besef ons net weer met hoe min jy kan klaarkom, tot waartoe jy regtig in staat is, hoe die reis makliker is wanneer jy saam met iemand reis. Jy besef die voorreg van saamreis, al is jy en jou reisgenoot twee teenoorgestelde pole. Dit is wat die reis juis suksesvol maak. Die geheim bly om uit beide pole se krag te put.

Ons stap nou al weke deur plase en sien hoe die boere voer baal en "rap" vir die winter. Daar word voorsiening gemaak. Tog kry elke bees steeds elke dag wat hy/sy nodig het. Ons dink daarin is ook 'n les. Jy het genoeg vir elke dag, maak voorsiening vir môre sonder om jouself vandag te wil te kort doen omdat jy  bang is vir môre. Dit wat jy droom om te doen, doen dit nou. Moenie uitstel nie, want as jy nou uitstel, is die kans goed dat jy dit nooit gaan doen nie.

Ons het ongeveer 30 km oor tot by die see - Finisterre. Ons beplan om dit in twee dae te doen. Dalk kan ons egter al môre-aand by Cee of Corcubon met ons voete in die see sit. Ons reis nader sy einde.

Praktiese raad: (Vergewe my indien ek goed herhaal)
Kyk mooi watter tyd van die jaar jy stap. Bring dalk net 'n laken. Orals is daar kussings en komberse indien dit koud is.
Ons het met al die water drink iets soos 'n poeier-koeldrank gemis. Sit vir jou 'n pak Game in. Jy hoef dit nie elke dag te drink nie, maar dit kan 'n goeie afwisseling wees. Ons het nog geen slegte water gedrink nie.
Een bord tussen twee mense is genoeg.
Het ek al iets gesê oor 'n generiese slaappil en oorpluisies?

Dankie vir julle mooi woorde op ons blog, ons waardeer dit steeds.
Groete

VAN SANTIAGO NA NEGREIRA

Ons slaap gister in 'n Albergue in die ou stad. Ons is net drie in die kamer, maar die temperatuur hang hier bo 38grade. By 21:30 gaan lê ons maar om te kyk of ons kan slaap. Ek vermoed dit was om en by 23:00 toe die kuier van alle kuiers onder ons kamervenster uitbreek. Die ergste hitte is toe verby, met die gevolg dat die Spanjaarde begin partytjie. Nodeloos om te sê, slaap was min en ons verslaap sodat ons eers by 08:00 begin stap.

Ons laat die stad agter, kyk terug hoe die katedraal teen die son afgebeeld word en stap die stilte tegemoet. Hierdie is 'the road less travelled'. Nie baie pelgrims stap Finisterre toe nie. Dit is egter weer berg uit en toe ons 30 min later pap nat gesweet is, weet ek; vandag het ons moeilikheid. Ansie stap nog met n siek lyf ook.

Ons stap by 'n huis in en vra die tante so deur die kombuisvenster vir water. Sy tap onmidddelik 'n glas en gee vir Ansie. Ons wil graag die bottels ook volmaak. 'Natuurlik', en sy spoel dit uit en vul dit vir ons. Sy maak ons bekers vol.

Ons stop by 'n rivier sodat Ansie eers kan swem. Ek trek skoene uit en hang my voete in die water. Die rivier is nie so koud soos die wat ons al beleef het nie, maar verfrissend. Die son staan stil toe ons na 14:00 by die albergue aankom waar ons wil oorslaap. Dis buite die dorp en hier is niks behalwe n koeldrankmasjien. Vanaand is ons op die noodvoorraad pakkie pasta. Die 22km was moordend en môre word nog 'n warm dag voorspel.

Die roete raak al meer uitdagend omdat dit nie goed gemerk is nie en slaapplek nie so geredelik beskikbaar is nie. Maar dit is wanneer jy fyner moet oplet, na rigting moet soek dat die weg 'n leermeester word. My medepelgrims vanaand kan jy ook sien is pelgrims. Verskeie sit met notaboeke en skryf die dag se ervaring neer, sif deur die gebeure om die lesse van die pad op te teken.

Ons praat oor die beste roete, waar sal ons kan oorslaap. Die gidsboek beveel aan dat daar ekstra proviant gepak moet word. Dit is egter Sondag en die winkels is gesluit. Tog het ons nou al geleer, die weg voorsien. Iemand sal weer ons pad kruis om ons beker vol te  maak en ons sal heel moontlik weer kan help om 'n ander se beker te vul.

Tot môre (en Wi-fi)

Saturday, July 6, 2013

MONTO DE GOZO NA SANTIAGO

Vanoggend ongeveer 08:15 stap ons Santiago binne. Saam met ons stap nog 'n Suid-Afrikaanse vrou. Sy is deel van die Bloemfontein groep. Dit was 'n goeie besluit om net buite Santiago oor te slaap. Dit is stil wannneer ons die plein voor die katedraal betree, bykans onvoorbereid? Ons dwaal rond asof ons nie mooi weet wat om nou te doen nie. Dit is die einde van die reis en ook nie.

Ons stap die katedraal binne met steeds hierdie verwarde gevoel van wat maak ek met my emosie en watter emosie beleef ek regtig. Ek stap deur die katedraal en poog om alles net te adem. Ek en Ansie gee mekaar ruimte om elkeen sy eie belewenis te smaak. Daar is verskeie  kapelletjies binne die katedraal waar daar in heel party 'n eucharistie in 'n spesifieke taal aangebied word. Ek wil brood uithaal, wyn en die ander nader roep. (Ek het  nie wyn by my nie, wel brood).

Ek stap die trappe af na waar die oorskot van Sint Jakobus lê. Daar kniel ek en prewel 'n kort gebed. Daar is nie werklike stilte nie. Ek stap weer uit en gaan sit langs Ansie - in stilte. Later beduie ek haar waar die oorskot van Jakobus lê. Ons beweeg weer deur die katedraal en besluit by 09:00 dat dit tyd is om ons compostellos te gaan haal.

Die ry is gelukkig relatief kort. Ons ontmoet die ou bekendes van die reis en nog Suid-Afrikaners. Voor by die toonbank moet ek my rede vir die reis merk. Nee, beslis nie godsdienstig nie, ook nie toerisme nie, eerder spiritueel. Ansie merk dieselfde. Ons stap uit, neem foto's en neem afskeid. Ons Italiaanse vriende is ook daar, ons  moet eers gaan saam koffie drink.

Ons kry verblyf, eet vinnig 'n broodjie en toe terug na die katedraal vir die 12 uur mis. Ons beleef dit as chaoties en na 45 min, waar kinders in een van die kapeletjies gedoop is, toeriste in en uit loop, besluit ons dat dit eers genoeg is. Tog is daar 'n moment in die Spaanse diens waar ek die skoonheid van die aanbidding waardeer. Dalk was dit die orrel en samesang wat my terug gevat het na 'n tyd in die verlede, was dit dalk Taize of dalk 'n NG Kerk toe ek 'n kind was, daar waar my reis begin het met die vals Portugese munt wat my pa by die Shell garage vir my gekry het?

Ons kom stort, vul voorraad aan vir die reis wat môre verder gaan. Ons dwaal deur die pragtige stad, maar ons is nog nie toeriste nie. Ons is nog steeds peregrinos wat môre die reis voortsit. Dus liewe vriende, die verhaal is nog nie verby nie. Nou is dit steeds 'Ultreia'. Finesterre lê net 'n Comrades ver - 86.7 km.

Groete

Praktiese raad:
Ons het nooit gesukkel om selfone/kameras te laai nie. Meeste plekke het kragpunte.
Bring werklik min klere. Ek het met twee stelle gestap en een stel vir saans en slaap.
Los so gou moontlik onnodige goed agter, iemand anders kan dit dalk gebruik. Dit is deel van die reis.
Medikasie: ons het niks gebring vir verkoue nie en moes koop. Onthou ook 'n antiseptise salf. Zamboksalf is wonderlik vir lippe, voete en bytplekke. Hier is genoeg apteke. Ansie se bottel hoesstroop was R40, ek vermoed dis wat ons by die huis ook sou betaal.

Friday, July 5, 2013

VAN SANTE IRENE NA MONTO DO GOZO

Dit is 18:00 wyl ek nou hier skryf. Die temperatuur op my selfoon sê dit is 34 grade. Vanmiddag 15:00 was dit 32. Ons kook, wel seker nie heeltemal letterlik nie maar tog ook figuurlik. Die sweet loop my af, maar ons is slegs 4 km van die katedraal waar ons more klaarmaak. Waarom dan nie maar deurstap en vandag klaarmaak nie? Ons wil nie deel wees van die massa mense wat vandag klaar gemaak het nie. Ons hoop om môre oggend om en by 7 uur die laaste 4 km te stap. Verder wil ons goed rus want Sondag stap ons verder. Ons beskou dit ook as 'n voorreg dat ons reis so kon uitdraai.

Spanje het ook nou skoolvakansie, iets wat jy kan oorweeg in jou eie beplanning om die Camino te kom stap. Dit was 'n goeie besluit om bietjie terug te hou sodat die massa eers kon aanbeweeg. Ons het in die begin oor die reen gekla, nou wens ons weer dit wil afkoel. Maak jou gereed dat van Sarria af dit 'n bietjie wild raak op die Camino en hier na Santiago se kant toe erg gekommersialiseerd. Kyk verby dit en bly fokus op jou reis. Moenie oordeel nie, jy beroof jouself van te veel vreugde.

Was hierdie reis die moeite werd? Verseker! Dit was die eerste keer in ons getroude lewe dat ek en Ansie 24/7 vir amper 3 weke in mekaar se geselskap was. Dit was goed om weer op hierdie weg waardering vir mekaar te kon kry, weer 'n nuwe stukkie begrip.

Daar is egter ander lesse wat die Weg ons geleer het. Hierdie lesse kan ek nie nou in woorde omskryf nie, trouens ek dink hulle is op ons harte neergeskryf om later eers na die oppervlakte te kom. Dit was 'n reis na binne waar elke dag se treë genoeg was. Ek wonder nou hier of ons in die lewe nie meer treë in 'n dag wil inpas as wat nodig is nie, en so mis ons soveel vreugde, van die lewe en van mede-pelgrims.

Ons het mense ontmoet, ek dink aan die Italianers wat jy instinktief aanvoel dat jy hierdie mense weer wil sien, trouens dat julle sou kon vriende word. Kan daar, in die toekoms, hierin iets opgesluit lê? Die kans is goed dat ons vir Stephni van Bloemfontein ook weer sal sien. Dit is sommer van die mense met wie ons die reis gedeel het. Dan is daar "Voetjie" van Japan. Ons weet nou nog nie haar naam nie, maar as ons stop, verpoos of oorslaap is die jong meisie met haar seer voete en innemende glimlag daar. Op 'n vreemde manier ontwikkel daar 'n band tussen ons en nog ander soos sy.

Dit was vir my goed om ook oor ons land te reflekteer. Of ek nou by nuwe waarhede uitgekom het, weet ek nie, maar my gewaarwording is dat ek bietjie in 'n naïwe politieke korrekte borrel vasgevang is. Ons land figureer nie op die radarskerm van mense hier nie. Die wat wel iets weet, weet van Mandela wat besig is om te sterf.

So sou ek nog honderde sake kon noem waaroor daar op hierdie weg tyd was om in stilte te reflekteer. In 'n sekere sin was dit dan ook 'n kontemplatiewe reis. Hoe ons more gaan voel wanneer ons die katedraal binnestap, weet ek nie. Dit kan mos nou enige van 'n miljoen emosies wees, maar ons gaan dit embrase as deel van ons reis. Want die reis ís goed.

Praktiese raad:
Daar is baie plekke langs die pad om by te kan eet en drink. Kyk egter mooi na die kaart, dit word daarop aangedui. Maak dan seker dat wanneer jy 'n lang stuk moet stap, daar iets is om te eet en te drink. Hou maar 'n noodvoorraad by jou soos vrugte, koekies, yogirt of brood en kaas. Dit is nie regtig swaar om te dra nie.

Elke persoon se begroting lyk anders, supermarkte het goed gewerk om ons kos daar te koop. Jy kan kos maak in meeste Albergues. Die perigrino's menue is egter net so goeie waarde vir geld. Ons het dit gereeld afgewissel. (Ons werk op 'n begroting).

Water is geen probleem nie. Jy kan orals jou bottel volmaak. Daar is orals drinkbare waterfonteine. Ons het baie water gedrink want dit was geweldig warm. Jy hoef dus nie bottel-water te wil koop nie. Wel dit sal onprakties wees.

Groete en dankie vir die saam reis. Nou begin dit eers.
Suseia!

VAV MILEDE NA SANTA IRENE

Jammer die plasing is so laat, maar ons slaap toe gisteraand by 'n Albergue tussen niks en nerens, geen wi-fi, geen restautant of kafee. Kom ek begin voor.

In Melide waarsku die Italianers ons dat verblyf nou 'n probleem raak. Een van die redes waarom ons meer per dag gestap het, is juis verblyf. Ons beplan om bv 20 km te stap,maar dan is verblyf op 14 km - te naby of dalk op 25 km. Gister wou ons by 25 km oorslaap net om daar te kom en te hoor dit is vol. Volgende dorp - nog 5 km en dit is bloedig warm. Ons stap terwyl ons vra wat wil die Weg ons leer.

In Santa Irene is die eerste Albergue ook vol, 300m straat af is die oulikste munisipale Albergue. Mooi nuut, vars en skoon, maar geen ander fasiliteite nie. Ons ontmoet 'n vrou uit Bloemfontein wat vir Ansie keel-medisyne gee. Ons deel weer met haar 'n eetdingetjie. Ons is nou altwee siek, maar ons hou.

Vanoggend dink ek weer aan die pad. Daar is daagliks pelgrims saam met jou op reis. Jy hoef nie te vra vir wie jy iets moet beteken nie. Hulle is daar, soos die Amerikaner met wie ons ons pot pasta kon deel. En dan loop ons hom weer later raak en hy nooi ons vir koffie - onbepland. Probeer sien raak vir wie jy elke dag iets voor kan beteken, en doen dit net.

Ons stap deur die mooiste dele van die land en is dankbaar vir elke belewenis. Ook die swaarkry is goed, dit leer mos volharding. Ons moet ons koppe, nou 8km van Santiago weer reg kry om te besef die einde van die pad is nie vandag of more nie, maar volgende week by Finisterre. Ons sien uit om hierdie deel van die tog af te sluit. Na ongeveer 400km is ons opgewonde oor die reis.

Ultreia

VAV MILEDE NA SANTA IRENE

Jammer die plasing is so laat, maar ons slaap toe gisteraand by 'n Albergue tussen niks en nerens, geen wi-fi, geen restautant of kafee. Kom ek begin voor.

In Melide waarsku die Italianers ons dat verblyf nou 'n probleem raak. Een van die redes waarom ons meer per dag gestap het, is juis verblyf. Ons beplan om bv 20 km te stap,maar dan is verblyf op 14 km - te naby of dalk op 25 km. Gister wou ons by 25 km oorslaap net om daar te kom en te hoor dit is vol. Volgende dorp - nog 5 km en dit is bloedig warm. Ons stap terwyl ons vra wat wil die Weg ons leer.

In Santa Irene is die eerste Albergue ook vol, 300m straat af is die oulikste munisipale Albergue. Mooi nuut, vars en skoon, maar geen ander fasiliteite nie. Ons ontmoet 'n vrou uit Bloemfontein wat vir Ansie keel-medisyne gee. Ons deel weer met haar 'n eetdingetjie. Ons is nou altwee siek, maar ons hou.

Vanoggend dink ek weer aan die pad. Daar is daagliks pelgrims saam met jou op reis. Jy hoef nie te vra vir wie jy iets moet beteken nie. Hulle is daar, soos die Amerikaner met wie ons ons pot pasta kon deel. En dan loop ons hom weer later raak en hy nooi ons vir koffie - onbepland. Probeer sien raak vir wie jy elke dag iets voor kan beteken, en doen dit net.

Ons stap deur die mooiste dele van die land en is dankbaar vir elke belewenis. Ook die swaarkry is goed, dit leer mos volharding. Ons moet ons koppe, nou 8km van Santiago weer reg kry om te besef die einde van die pad is nie vandag of more nie, maar volgende week by Finisterre. Ons sien uit om hierdie deel van die tog af te sluit. Na ongeveer 400km is ons opgewonde oor die reis.

Ultreia

Wednesday, July 3, 2013

VAN PORTOS NA MELIDE

Dit lyk of die plan werk om so 'n bietjie terug te hou. Die pad was lekker stil en ons het gemaklik gestap. Hierdie deel van die Camino is inderdaad baie makliker. Die pad is min of meer gelyk met matige opdraendes en afdraendes.
Dit wil egter lyk of die goggas van die Camino ons gisteraand getakel het en dit by 'n privaat Albergue. Ons het voor die tyd gereken ons sal dit vryspring, juis omdat die inligting wat ons kon kry, reken dit gebeur meer op die eerste deel van die Camino. Vind dus maar uit wat julle sou kon saambring om jou hierteen te beskerm. Ons smeer nou 'n antiseptiese roompie vir die irritasie. Ek het ook antihistamien gekoop omdat die allergie sedert Sarria my onderkry.
Ons ontmoet verskeie mense op die roete. Elkeen stap egter sy of haar eie pas en ons loop mekaar so tussen die dorpe en die slaapplekke raak. So ver was dit egter net enkele Suid-Afrikaners wat ons op die pad gekry het. Die meerderheid bly maar Spanjaarde. Omdat taal 'n kwessie is, is die kommunikasie dus ook min. Tog maak almal, tsv hulle seer voete, blase en ander skete dit van dorp tot dorp. My vermoede is dat baie min pelgrims tou opgooi. 'n Italiaanse man en vrou (60) het in 'n maand van die begin van die roete gestap tot waar ons nou is. Hulle maak die bykans 800km dus in ongeveer 5/6 weke se tyd klaar. Dan is daar die jongman wat van Brasilië kom en na 25 dae hoop om die roete môre te voltooi. Dit klnk te veel na 'n wedloop.
Maar, in ons eie koppe begin dit voel of ons ook nou wil klaar maak. En tog wil ons nog Finisterre toe ook stap. Ons was beide stil op die pad vanogged, elkeen besig met sy eie interne reis, elkeen besig om te probeer put uit die reis. Ons weet egter nou dat jy nie met enige vooropgestelde idees die reis moet aanpak nie. Dit is 'n perlgrimstog saam met die Pelgrim. Hy moet doen wat Hy moet doen. Die resultaat van die reis is dus nie Santiago of Finisterre nie, maar êrens in die toekoms, vertrou ons, sal die resultate sigbaar word.
Die kruis op die foto (dis nou as die foto aangeheg is) het my vanooggend in 'n kerkie opgeval. Christus se een hand is los van die kruishout en hang bykans uitgestrek, uitnodigend na die pelgrim voor Hom. "Wees U hulle krag in moegheid..."
Groete en weer dankie vir die boodskappe wat ons ontvang.

Tuesday, July 2, 2013

VAN PORTOMARIN NA PORTOS

So, na 'n nag se slaap tussen twee jong meisies en 'n klomp jonges wat nog laat gekuier het, het ons 06:45 in die pad geval. Ons koppe was vanoggend by ons kinders. Hesta het gister uit die hospitaal gekom nadat haar verstandtande verwyder is - onbepland. WJ en hulle 'band' vertrek môre op hulle bekenstellingstoer van die vrystelling van hulle nuwe cd, Eerste Reën. Ons kon darem op Youtube na een van die snitte luister en daar wag vir my 'n cd by die huis. Ons het vanoggend met hulle gepraat en onder omstandighede klink hulle goed. Dankie Marieke, Alta en Callie, ons waardeer.

Ons het toe gekies om by Portos oor te slaap. In Engels noem hulle dit 'n hamlet, so 'n plekkie tusen die plase waar daar niks gebeur nie - salig. Ons slaap in 'n privaat Albergue waar daar net 8 in die kamer is. Hopelik rus ons goed vannag. Ons het heerlik geëet aan die peregrino's menu; pasta sop, varkvleis en chips en weer die amandeltert met port.

Nadat ons vanmiddag ons sakke afgelaai het, het ons so 5 km gestap, heen en terug, om na 'n ou kerk te gaan kyk. Die kerk dateer uit die 15de eeu waar die ridders hulle self gevestig het. Die stilte van die ou kerkie adem iets van die mistieke van die pelgrimstog. Soos Brierley in sy gids skryf: Jy kan of gaan soek na heilige plekke of na die innerlike heiligdom. Die reis na binne bly steeds goed. Ons praat op die pad oor die eenvoud van die lewe en hoe om die eenvoud in die alledaagse te vind.

Is ons probleem nie juis dat ons altyd dáár wil wees nie? Dalk is dit ons dilemma in SA. Ons westerlinge is geleer dat sin, hoop en betekenis in die itopia van môre te vinde is en die Africans vind dit weer in die verlede. Indien ons almal mekaar net in die hede kon vind... Indien ons net kon verstaan dat betekenis, vrede, God self, in die hier en die nou is. Die Koninkryk is inderdaad hier en nou binne ons.

Die roete was weereens maklik en gemaklik. Dit bly steeds 'n stroom van stappers (ek huiwer om te sê pelgrims) wat nou stap om by Santiago uit te kom. Ons het reeds besluit dat Santiago nie die einde van die pad gaan wees nie. Ons gaan verder stap tot by Finisterre.

Praktiese raad (ongetoets). Indien jy nuwe skoene het, bring vir jou ekstra binnesole saam. Na 300km sou ek graag net my binnesole wou vervang. Indien jy met ou skoene gaan staap, sit vir jou nuwe binnesole in. Jy kry dit oral te koop.

Ons stap steeds goed met geen probleme nie. Natuurlik is ons lywe en voete na meer as 300 km moeg, maar net 'n oomblik se rus bring nuwe krag. Verpoos dus by die waterstrome, fonteine en stalletjies wat deur vrywilligers beman word. Haal jou rugsak af wanneer jy stop, moenie wil stáán en iets geniet nie, sit, verpoos en geniet werklik.

Ons vertraag nou die pas en hoop om Saterdagoggend Santiago binne te stap. Nou geniet ons egter steeds elke nuwe ervaring. Indien jy die fliek The Way kan kyk voordat jy kom stap, doen dit beslis. Dit is 'n getroue weergawe van wat jy te wagte kan wees. Moet egter nie  kom stap net om 'n staproete van ??km te kom doen nie. Vir my en Ansie is die pelgrimsreis die moeite werd en ons herinner onsself deurendtyd daaraan. Hier is dit waar dat die Gees waai waar Hy wil.

Ultreia. 

Monday, July 1, 2013

VAN SARRIA NA PONTOMARIN

Om 'n sertifikaat te ontvang moet jy die laaste 100km van Sarria af stap. (Jy moet ook twee stempels per dag in jou pelgrimspaspoort kry). Die gevolg is dat dit nou soos skooltoere in Margate lyk. Hier is honderde skoolkinders wat op ondersteunende toere op pad is na Santiago. Daarmee saam is daar nog 'n menigde wat die laaste stuk van die Camino wil aandurf. Skielik is dit net te gekommersialiseerd. Ons vrede word versteur.

Dit is egter mos die uitdaging van die lewe, om in alle omstandighede van uit die vrede te leef en nie toe te laat dat ander jou van jou vrede beroof nie. Ek dink die afgelope dag of wat so oor ons land. Die omvang van die armoede tref jou wanneer jy op 'n afstand vanuit Europa daaroor besin. Dit stem ons bykans weemoedig wanneer jy hier die vullesverwyderaars sien, wat van die laagste sosiale stand is, wat steeds hulle werk met 'n stuk werksetiek doen. Wat sal tog van ons land word......

Die pad vandag was die maklikste tot dusver. Ek verstaan nou waarom vriende wat hierdie laaste deel van die Camino gestap het, dit met net sandale gedoen het. Die 300 km wat ons reeds afgelê het, vat egter nou aan ons voete. Ons enkels en bene is seer. Ons moes vanoggend ons opnuut moitiveer om op die pad te klim. Ons het egter net meer as 23 km gemaklik gestap. Vandag was dit heel pad bewolk en mistig, wat die stap natuurlik vergemaklik het.

Met die massas mense is daar vanaand nie genoeg verblyf in die dorpie beskikbaar nie. Ons was vroeg hier en bly in die slegste omstandighede tot dusver. Ons plan was om vanaand self kos te maak. Lieflike groot kombuis, maar geen eetgery of 'n ketel nie. Al die ander Albergues met kombuise het eetgery en potte. Hier is ook geen wi-fi, hoop om by 'n kroeg te kan gaan stuur. Die storte is oop, dus geen privaatheid. Maar, jy speel met die kaarte wat jy gedeel word, want dit kan steeds 'n wen-hand wees. Dit is tog 'n pelgrimstog.

Dan slaap ek vanaand tussen twee jongmeisies. Die beddens aan die een kant is teenmekaar geskuif en aan die ander kant waar jy inklim so 'n 12 cm spasie. Ansie slaap op die stapelbed bokant my (sy staan nie op in die nag nie). Hoe ons vanaand gaan slaap, weet ek nie. Die kamers is erg bedompig.

Ons plan is om die laaste 80 km na Santiago te vertraag om eers Saterdag oggend daar aan te kom. Ons wil ook die groot oorslaapplekke vermy en eerder op die kleiner plekkies slaap. Ons sal môre weet of die strategie gaan werk.

Praktiese raad:
Skeur die deel uit die gidsboek wat jy nie gaan stap nie, gooi dit weg. Ek skeur elke dag die dag se roete uit die gidsboek wat ons beplan om te stap en sit dit in 'n A4 zip lock sakkie. Die vou ek weer op en sit dit in my broeksak. Dis net makliker as om kort-kort die boek êrens te moet uithaal. Saans bêre ek dit weer.
Ons stap tot net buite die dorp, sit dan rustig en bestudeer die verskillende Albergues. Die privaat Albergues is gewoonlik duurder, maar meer "luuks" en stiller. Dit lyk ook of die ouer pelgrims by die privaat Albergues oorbly.
Jy weet nie wat jy kry by die munisipale Albergues voordat jy nie in is nie!

Sunday, June 30, 2013

SARRIA

Ons staan oor en rus uit. Ons bederf onsself weer vandag, slaap in 'n dubbelkamer en deel 'n badkamer met ander gaste. Ons is egter die enigstes en het vir die eerste keer privaatheid, en tog mis ons ons mede-pelgrims. Die Franse-groep het vanoggend weer vertrek, ons het hulle in Leon opgetel. Die twee Nederlandse tannies is ook nou vooruit. Vanmiddag stap 'n Duitse dame, wat ons 'n paar dae gelede teen die berg agtergelaat het, by ons verby. Sy kom so pas in Sarria aan. Ons het gister gedink ons is gedaan, maar sy is regtig gedaan. Haar een voet is verbind, sy stap nou met sandale.

Ons sit vanmiddag in die skadu's langs die rivier. Weer klink die, nou al bekende, loflied op van die wind deur die blare, die gedruis van die water en die voëlgesang. Die loflied is jou lied. Ek hoor die woorde van Ubi caritas... Waar daar liefde is en vrede, daar is God die Heer. Die visse wat ek deur die water kan sien dans saam die ewige dans, perichoreses. Die reis is die moeite werd, in 'n oomblik ontdek ek die Vrede. Inderdaad dit is die heel tyd hier by ons, binne ons.

Ons het  toe die besluit geneem; ons stap tot aan die einde van die wêreld, tot daar waar die beeld vir die songod by Finistere opgerig is, daar by die see waar Jakobus gaan aankomdig het dat die ewige Lig gekom het.

Ons betree nou die laaste deel van die skof. Nog ongeveer 120km na Santiago en dan nog ongeveer 90km na Finistere. Ons hoop dat ons krag en liggame sal hou. Die woestynvaders het gesê dat indien jy die liggaam onder beheer kan kry, kan jy ook die innerlike mens onder beheer kry en met sonde afreken.

Onder ons kamervenster speel 'n Spanjaard 'n lied van verlange op sy kitaar. Die dag staan einde se kant toe, maar die reis weet ek nou sal nie by Santiago of by Finnister opou nie. Die reis sal eers daar begin.

Môre na Portomsartin -DV.
Ns. Ek antwoord 'n paar opmerkings op die blog sommer hier.
Dit bly uiters warm, water is geen probleem nie. Daar is meer as genoeg waterpunte/krane. Ansie kom mos uit die Karoo, so sy skep sommer uit die fonteine en waterstrome. Water - heerlik.
Ek dink as ek gister alleen moes stap het ek 09:00 al oorgeslaap. Twee vaar beter as een, as een val kan die ander hom ophelp.
Dankie vir almal wat saam stap, Vrede!

Saturday, June 29, 2013

VAN FONFRIA NA SARRIA

Ek moet eers gister finaal afsluit voor ek by vandag kom. Ons hoogste punt gister was 1300m bo seespieël. Die hoogste berg wat ons nog moes oor was 1600 m. Ons het toe begin sak na 600m. Gisteraand slaap ons toe in die privaat Albergue. Ons aandete is 18:30 en ons eet almal saam aan en groot tafel. Spyskaart teen €9: Plaaslike groente sop, kalfsvleis-bredie met  plaaslike amandeltert as nagereg. Daarmee saam brood en wyn. Ons eet in oordaad, daar is soveel kos dat ons dit nie naastenby kan opeet nie, brood en wyn ook in oorvloed. Ons beker word weereens vol gemaak.

Ek slaap beter as al die vorige nagte, maar dit beteken eintlik nie veel nie. Indien jy 'n ligte slaper is, bring vir jou 'n generiese slaappilletjie saam wat jy sommer by Discem kry. Ek het nie en is spyt daaroor. Ek is vroeg wakker en na koffie en roosterbrood met konfyt (weer vra die tannie of ons nog wil hê) is ons 7 uur op pad, maar vanoggend is ek dood.  Ons is steeds besig om berg af te beweeg. Dit bly seerder en moeiliker as die uitklim. Ons is 9 uur by die eerste dorp, Triacastela. Ek sê vir Ansie ons moet oorslaap. Dis egter heeltemal te vroeg. Die Albergues maak eers 13:00 vir die pelgrims oop.

Ons koop voorraad vir die volgende skof. Die probleem is dat daar bykans geen dorpie op die volgende stuk pad is nie. Ons is besig om deur plase en woude te stap. Sarria lê 21km ver en ek is klaar dood, maar Anise meen ons druk deur. Ons stap deur die  mooiste landskappe en bergpadjies, stop by 'n fontein in die berg waar ek vinnig ons melk in die stroom koud maak en ietsie eet. Ons druk deur. Ultreia!

By 14:30, na ongeveer 29km, strompel ons Sarria binne. By die eerste straatkafee stop ek en bestel twee biere. Hier plaas hulle die bierbekers in die vrieskas. Wanneer hulle die koue bier dan tap, het die boonste lagie fyn ys in - verfrissend. Ons gaan vanaand en more aand hier oorslaap. Nou rus ons eers goed en stap Maandag verder.

Nog praktiese raad: Klere, wat vat jy? So min as moontlik - 3 stelle. Indien jou klere binne 4 ure kan droog word, is hulle reg vir die stap.
Begin betyds oefen met jou klere skoene en rugsak. Indien jy aktief is, draf of stap of gym, gaan dit tot jou voordeel wees. Moenie dink die Camino is 'n walk in the park nie.
Hoeveel keer het ek al oor skoene iets gesê? Indien jy twyfel oor jou skoene, skry ander!

Belangrikste: Hierdie is 'n reis na binne, jy word van pritensie gestroop. Los jou godsdiens, grimeersak en veilige ruimte by die huis. Dit gaan jou terug hou. Jy stap die Camino om weer die ware "jy" raak te loop.
Jou reisgenoot.
NS Dankie vir die boodskappe en reaksie op die blog. Ons waardeer. Jy is welkom om te reageer en vra te vra.

Friday, June 28, 2013

VAN VALCARE NA FONFRIA

Ons het net na 7 uit die dorpie gestap waar ons oorgeslaap het. Een van die interessanthede van die dorpie, asook van 'n paar voor en na die een, is die A6 snelweg wat bo-oor die dorpies gebou is. Wanneer ek se bo-oor, dink eerder aan iets uit 'n Scy-fi fliek. Die snelweg loop daar doer bo oor die bergtoppe, wyl jy hier onder nie daarvan weet nie, behalwe wanneer jy opkyk. Bo snel dit verby en onder leef hulle die vredevolle lewe van die valleie.

Dit is prentjie-mooi wanneer ons die pad begin vat. Die rivier, helder skoon, kabel onder verby. Die son is stadig besig om oor die heuweltoppe te skuif en belig die toring van die eeu-oue kerkie. Huise staan skerp afgeteken teen die groen berghang. Voëls, en die  ganse natuur klink dit my, laat weerklink die eerste akkoorde van hulle loflied. Hulle het geen onsekerheid dat hulle Skepper die skepping vul nie.

Vandag is dit weer berg uit, maar ons het goed gerus en stap flink. Ons staan bo op die wêreld, op hoë plekke laat Hy ons veilig loop. Ons gaan eindelik Galicia binne en dit is voelbaar koeler. Ons begin nou afsak see toe. Nog net 140 km om te gaan, vertel een padtekens.

In 'n klein dorpie sit ons op 'n muur in die skadus van 'n boom. Ons eet koekies en drink melk. 'n Man sit en beman sy wandelstokke wat hy verkoop, die sigaret hang skeef in sy mond, hande gemaklik oor die knieë gevou. Besigheid is nie goed nie, maar dit pla hom nie. 'n Klompie melkkoeie kom verby beweeg. Hulle word vergesel van hulle hond. Hier lyk  my kry jy "bees-honde" wat help met die aanjaag van die koeie. Die boervou wat saam stap, kan jy sien, verstaan haar werk.

Dan, heel agter, 'n jong meisie, seker 20, jaag liggies die laaste koeie aan. "Foeitog", sê ons. Ek vra vir Ansie waarom dink ons dat dit bejammerenswaardig is. Sy kan soveel meer bereik, is die antwoord. En ek wonder of sy nie dalk meer vrede het nie. Waarom definieer ons steeds vrede en geluk met prestasie, geld, sukses ens. Kan sy nie suksesvol wees as 'n volgende generasie wat melk op tafels sit en met vrede lewe nie? Ons reis is nog nie klaar nie.

Vir julle wat in die toekoms gaan kom stap, 'n paar praktiese stukkies inligting:
Jy kan in die Albergues oorlaap teen tussen €5 en €8. Hulle het almal kussings. Los dus jou kussing by die huis. (Ons betaal vanaand vir die eerste keer €8. Dis 'n privaat Albergue en pragtig.
Toiletpapier en wifi is orals en dis gratis.
Ek sou graag 'n "staplaken" wou gehad het, ek slaap nie goed binne 'n slaapsak nie.
Los jou Swiss army knife. Dis net 'n fancy bottel-oopmaker en daar is altyd iemand met een. Sien my raad oor die gadgets vroeër.
Stapstokke is 'n moet, een werk vir my. Ansie verkies twee.
Sy dra 'n moonbag vir al haar goed wat sy kort-kort nodig het.
Sonbrandroom en breerand hoed. Nie 'n petjie nie, jou ore brand blase.
Anti-histamien en sinutabs as jy met alergieë worstel soos ek.

Ons stap steeds goed en geniet dit ongelooflik. Ons begin dink of ons nie tot aan die einde van die wêreld moet stap nie, sal maar sien.
Groete

Thursday, June 27, 2013

VAN CACABELOS NA VEGA DE VALGARCE 2 SONDER FOTO'S

Ons stop vir 'n vinnige koffie en stap deur 'n bouvallige kleiner-as-'n-dorpie. Ons kom op o.a. die klip af met die spreuk: If you can not find peace with in yourself you will never find it. Vrede is binne ons opgesluit, dis mos waar die Koninkryk ook is.

Ons mis die supermark in Villafranca en besluit ook dat ons van daar nie langs die hoofpad na ons volgende dorp gaan stap nie, maar eerder oor die berg. Nie goeie besluit nie. Ons klim vir bykans 12 km teen die berg uit. Ons eet ons laaste proviant en t.s.v gister se gevleuelde woorde, raak ons water op.

Die berg word in vele opsigte 'n reis na binne om die innerlike vrede te soek. Ek en Ansie het mos die stap kom doen vir ons huwelik. Ons stoei rondom 'n paar sake die berg uit. Dit is egter makliker om die berg te uit, as om die berg te af.

Die lewe na buite is maklik om te leef, maar wanneer jy moet afsak in die diepste kamers van die self in om die vrede te soek, is dit 'n pynlike ervaring. Die dissipels wou mos ook bo op die berg bly! Ons vorder treetjie vir treetjie teen die hellings af, al te goed bewus van die pyne in die bene wat protesteer. Maar af moet  ons af.

Ons stop in die dorpie onder die berg, ses ure later en uitgeput. Ons bestel koffie, dis nog nie die einde nie. Ons strompel voort  om bykans 25 km en 8 ure later by ons oornagplek aan te kom. Ons is in vele opsigte gedaan.

Vanaand se slaapplek bestaan uit verskillende sale, ons slaap ses in 'n saal met vensters en lug. Die volgende bergreeks lê reeds môre vir ons en wag. Ons vertrou dat ons die ook sal uit en af. Al hoe nader na die eindpunt en al hoe nader na die groot Vrede.

Ons het vanaand weer die pelgrimseën van die priester van die dorp ontvang. Ons was egter laat vir die diens omdat ek 'n handoek uit 'n kanaal moes red wat daar ingewaai het nadat Ansie dit gewas het.

Deus adjuva nos.

VAN CACABELOS NA VEGA DE VACARCE

Ons het vanoggend net na 07:00 in die pad geval na baie min slaap. Die kamertjies hetr geen vensters nie, was uiters bedompig en langs ons was 'n siek vrou. Ek worstel met die stof en stuifmeel. As ons egter eers aan die stap kom dan stap ons.  Ek sukkel met die tegnologie, so ek poog eersdie foto's plaas en dan die blog skryf.



Wednesday, June 26, 2013

VAN MOLINASECA NA CACABELOS

Ons het na gister se uitmergelende stap eers vanoggend 09:00 in die pad
geval. Ons was beide dood gewees. Ek het vergeet om die oases se foto
gister aan te heg, Sien dus foto no 1. Ons het langs die rivier gebly.

Vanoggend se roete was grootliks teerpad omdat ons deur die stad Ponferada
moes stap. Die gidsboek waarsku dat jy die heel tyd op die uitkyk moet wees
vir die rigtingaanwysers. Êrens is ek onseker en stop eers, kyk weer die
kaart. Die son val in ons gesig en dit is nie reg nie. Ons moet wes stap.
Ansie sê ons moet net agter die ou voor ons aanstap. Ek stap egter nie
agter enige iemand aan nie. Ek wil weet dat die persoon wat voorloop, weet
waarheen ons op pad is.

Op hierdie reis kan jy egter agterkom wie jy kan vertrou met die roete. Dit
is nie noodwendig die persoon met die kaartboek in sy hand nie. Dis die
persoon wat jy kan sien lig reis, gemaklik en doelgerig stap. Hy het bykans
'n ligtheid in die stap. Dit is die persoon wat jy by die waterfontein sal
kry, besig om sy waterbottel vol te maak  en net weer rustig die gids te
bestudeer.

Pasop vir die op die reis wat jou vra om hulle te vertrou. Hulle soek
gewoonlik net bevestiging vir hulle eie onsekerheid. Vra as jy nie weet
nie, verpoos eerder nog 'n paar minute. Op die lang duur maak dit die reis
makliker. Moet ook nie eers wil water drink wanneer jy reeds dors is nie,
drink betyds en drink genoeg. Sorg dat jou waterkruik vol is.

Dit is kersie-tyd in Spanje. Orals is daar kersies te koop. Die bome hang
vol. Ons stap verby die bome en pluk hier en daar een. 'n Boer op sy
trekker wat onder een van die bome staan, wink ons nader. Kom pluk! Ons
pluk 'n klompie. Pluk nog! Nee, ons het genoeg. Hier, vat hierdie tak en
pluk. Ons maak 'n sakkie vol. Hy vul ons beker. Vra van waar ons kom, leef
Mandela  nog, wil hy weet. Ons het kersies vir môre ook.

Ons wou net 20 km stap, maar stap op die einde 25km. By die Albergue waar
ons oorslaap, is daar 'n rivier. Ons gaan swem eers in die koue water, verfissend.

Ons is vanaand terug na die eenvoud. Ons slaap in 'n eenvoudige twee-slaaper met gedeelde storte. Ons eet brood, kaas, koue vleis en Spaanse wyn. Ons reis soos konings.

Gegroet.
Hierdie plasing sukkel, so ek los weereens die fotos's

Tuesday, June 25, 2013

RABANAL NA MOLINASECA

Gisteraand sluit ons die dag af met die Pelgrimsdiens in die kapel. Die diens is mooi, skoon en in eenvoud. In Latyn seën die priester ons weer, dieselfde seën waarmee Sybrand ons verlede Sondag mee weggestuur het. ".....wees U hulle skadu in die hitte, hulle lig in die donker...." Vanoggend toe ons 07:00 vertrek hang die maan in die weste oor ons, terwyl die son in die ooste agter ons skyn. (Sien foto)

Toe raak ons geld op, nee, nie soos in op-op nie, net soos in die beursie is leeg. EN AL DIE DORPIES HET NIE 'N KITSBANK NIE. Dra dus minstens €50 by jou, ten alle tye. Die implikasie is dat ons agter geld moet aanloop. Dit maak jou dood. (Lewensles wat ek sal onthou.) Ons wou op 20 km oorslaap, maar kan nie betaal nie. Dus moes ons 26 km stap.

Nou vra jy wat is 6 km tussen vriende? Wel, wanneer jy reeds 11 km die berg uit is en nou begin sak teen die berg af in 40 grade, dan is dit 'n verskil met 'n "f". Ons stop en vra waar die naaste kitsbank is, alles natuurlik in my beste Spaans. Volgende dorp is die antwoord. Ons rehedreer met twee koues en tappas en stap verder die berg af. Ansie verjaar en sy is glad nie beindruk nie. Ek volg dan die gidsboek!

Ons stap na 15:00 by die oase in en ek bespreek in by die eerste hotel. Dit is darem my vrou se verjaarsdag. Hopelik kan ons vanaand goed uitrus. Ons stap steeds goed met geen groot probleme nie (waarvoor daar nie pille is nie.)

Ons het vanoggend by die tweede gedenkteken verby geloop waar 'n perlgrim in die onlangse verlede oorlede is. Dit is dan wanneer jy dankbaar is dat jy doen wat jy doen. Ek is seker my mede-pelgrim het in vrede gegaan. Die reis berei jou tog ook op 'n manier voor vir die ewige reis.

Ons het ook vanogged by die La Cruz de Ferro ons volgende tree in die proses van aflê voltooi (sien foto). Dit is 'n punt op die roete waar jy simbolies by die kruis 'n klippie plaas. Onthou dis 'n pelgrimsroete waar die eerste pelgrims by die graf van Sint Jakobus hulle finale gebede wou bring om dan by Finister - die einde van die wêreld, hulle klere te verbrand, in die see te swem en terug te keer as nuwe volgelinge.

Ansie los 'n klippie van die Karoo uit haar kinderdae. Ek los 'n Portugese munt wat ek gekry het toe ek 10 was (Dis daardie vals munte wat hulle destyds by Shell uitgegee het waar my pa petrol op die boek ingegooi het teen 5c/l.) Ek hang ook my Koptiese kruisie teen die groot kruis. Dit was waar die pad in my lewe gevurk het toe ek die Koptiese kruis ontdek het.

Dankie vir die gelukwense met Ansie se verjaarsdag en boodskappe van bemoediging. Ons waarder dit. Ewald jy is in my gedates. Jy het mos die reis voltooi. My broer hoe het jy dit voltooi met daardie skoene? Hier sien ek nog gereeld skoene wat agter gelaat word.

Vannag rus ons, hopelik, goed.
Ons reis goed.
Ultreia!
Suseia!

Monday, June 24, 2013

VAN ASTORGA NA RABANAL

Ons het vandag begin om die berg oor te steek na Galisio. Dit was 'n klim van 21 km. Ons bereik egter eers môre die hoogste punt van ons roete. Inderdaad, wanneer jy dink jy het 'n hoogtepunt bereik, moenie daar stop nie. Daar lê nog baie voor.

Ons slaap oor by 'n Albergue wat deur die Benidiktyne beman en bestuur word. Uiters skoon en gasvry, met middag tee wat 16:30 bedien was. Die Albergues bestaan uit slaapsale met stapel-beddens. Alles word gedeel - kombuis, storte en slaapsale. Daar kan tot meer as 100 by so 'n Albergue oorbly. Ons het vooraf op die internet - Conformity of St James - 'n lys gekry van die wat hulle aanbeveel. Dit bly 'n aanpassing om so met ander saam te leef. Dan dink ek aan die gemeente in Handelinge wat alles gedeel het..... (ek het op hierdie reis al meer as een maal myself gevra hoe ver mis ons nie die punt nie.)

Ons stap die berg uit en vind weer hierdie skoen (sien foto). Hoe gaan hierdie persoon die volgende 242 km na Santiago stap? Duidelik het hierdie persoon besluit dat dit wat hy/sy die meeste nodig het vir die reis, hom/haar terughou. Ja, so is dit mos; dit wat ek meen ek die meeste nodig het in die lewe, is dikwels die dinge wat my die meeste terughou. Laai af! Reis lig! Dit is tog die reis na binne wat die meeste vreugde bring. Daarvoor moet jy egter die ego aflê. Ai! Ons het die bedompige ego tog so nodig, terwyl die ware ek kan sweef op hoë plekke.

Ons is môre reeds 'n week op die pad, het 138 km gestap en daar is nog 242 km oor. Ons stap tot dusver goed, ons is dankbaar.

Groete.
NS Dankie vir almal se kommentaar op die blok en "likes" op FB. Ons waardeer.

Sunday, June 23, 2013

VAN ORBIGO NA ASTORGA

Dit is 18:00 en die son sit hoog. Vandag was 'n rusdag. Ons het baie rustig die 15km na Astorga gestap, om hier te kom en alles gesluit te vind. Dit is Sondag. Selfs die katedraal is toe. Nee, ek weet dit maak nie sin nie.

Ons stap deur die mooiste landskappe, boerderye en plattelandse dorpies. Ons verpoos in 'n kerk (Katoliek). Die kerk is vol, dit lyk soos 'n gewone Sondagdiens by die huis. 'n Baba word gedoop, die Priester lei sommer self die voorsang.

Teen een van die koppies uit, vind ons aan die bo-kant 'n klein oase. Vrywillgers beman 'n stalletjie met  ete en  drinke. Ek skop skoene uit, drink koffie en eet droë vrugte. Later sê Ansie ek moet vir haar preek. Sy kan nie haar Sondagpreek mis nie. Ek sê dat ons die liturgie van die lewe moet herdenk. Ons het pas bo op die bult die Eucharistie gevier. Christus het weer mens geword in 'n jong meisie wat met vreugde ons bedien met iets te ete en te drinke.

"Of dalk het Maria aan ons verskyn", spot ek met Ansie. "Nee, eerder 'n Engel", antwoord sy. "Ja, vir julle charismate kan dit hoogstens 'n Engel wees." Ons stap teen die styl berg Astorga binne. Kry slaapplek, ek vra of hulle dalk 'n privaatkamer het. "Hierdie is nie 'n hotel nie!" antwoord die dame. Dis reg so, ons vat die kamer wat ons met twee ander persone deel.

Vanaand eet ons in, hoender en chips wat ons by 'n kroeg koop! Ek vra uit na 'n wynvat se inhoud, hy skink en laat my proe. Waarom smaak alles hier so lekker? Ons eet heerlik in die eetsaal van die Albergue en kon ook ons maaltyd met 'n mede-pelgrim deel.

Ansie bekommer haar oor 'n siek kind (19) by die huis, dis mos hoe 'n ma is.

Ons lywe is seer en môre steek ons 'n berg oor! Gaan ons hou? Dit is wat ons aan die einde van elke dag vra. Of ons nou al iets moet sê oor skoene vir die wat beplan om die Camino te stap, weet ek nog nie. Wat ek wel weet is dat indien ons skoene nie waterdig was nie, het ons die eerste dag moeilikheid gehad. My voete is seer, maar nie ek of Ansie het blase nie. Hier sit mense wie se voete soos steak-tartare lyk. Maar laat ek eerder by Santiago oor skoene praat.

Maak egter seker jy koop goeie skoene, een nommer groter as wat jy dra. Hulle word gemerk in grotes "US" en "UK". "US"- dan moet dit twee grootes goter as jou normale groote wees. "UK" - een nommer groter. Die prys gaan beslis die kwalitit bepaal. Onthou egter ook dat jy nie die Andes gaan oorsteek nie. Dra 'n hoed wat jou ore toe hou en bring sonbrandroom.

Die beste spoed is jou eie spoed (teen 'n paal langs die pad).
Ultreia.

Saturday, June 22, 2013

LA VIREGN DEL CAMINO NA VILLAR DE MAZARIFE - NEE! Hospital de Orbigo

Na 'n relatief goeie nagrus, val ons 07:00 in die pad. Sommiges is reeds uit, hulle het al 05:30 opgestaan. Die plan was om by Mazarife oor te slaap - 15 km. Ons het egter, na piekniek langs die pad, net voor 11 vm daar aangekom. Ons drink koffie en besluit om nog 10 km te stap en dan by Villavente oor te slaap. Daar gekom stap ons deur die dorp om te kyk hoe lyk die Molino Galochas. Dit is 'n ou graanmeul wat in 'n gastehuis omskep is.

Dit lê ongeveer 1km buite die dorp. 'n Pragtige plek wat oor die rivier gebou is. Kostes - €95 vir 'n kamer met aandete, bed en ontbyt. Dis bo ons vuurmaakplek, ons betaal tans tussen €5-7 per bed. "Hoe ver is die volgende dorp?" vra Ansie. 3 km - antwoord hulle. Ansie: "Kom ons stap." Ek: "Dos serveca, por favor!" Sy bedien ons met twee koue biere met soutbeskuitjies, dra later 'n appelbrood aan. Ons geniet die skoonheid en gasvryheid, sy maak ons beker vol.

Ons stap die volgende 3 km na die dorp Hospital de Orbigo en nog meer as 'n km na die Albergue San Migual waar ons oorslaap. Ons word hartlik verwelkom: "Trek uit julle skoene, haal af julle rugsakke, kry 'n slukkie wyn, welkom!" Ons stort, was klere en val uitgeput op ons beddens neer. Ons gaan eet die pelgrimspspyskaart by 'n restaurant en geniet die geure van die Spaanse disse: Vir Ansie vir voorgereg, pasta met kaas en vir my 'n bord koue vleis met kaas. Daarmee saam brood en 'n bottel wyn. Hoofgereg vir Ansie; vis en slaai, ek kies gebraaide vark skywe met rooi-peper en chips. Met nagereg... alles vir €9 per persoon.

Ek dink vanoggend aan die reis toe ons so sukkel met ons rugsakke. Ons dra steeds te veel saam, onnodig. So is dit met die lewensreis ook. Ons dra te  veel en dit hou ons terug. Om te laat los en te laat gaan, is egter nie so maklik nie.

Ons lywe is seer met nuwe pyne daagliks, tog is ons dankbaar dat ons voete hou. Vir pyn kan jy 'n pilletjie sluk, aan blase is daar nie salf te smeeer nie. Ons hoop en vertrou dat ons lywe sal hou. Aan ons vyande - vergewe ons en aan ons kinders - onthou ons.

Ons probeer reflekteer op die reis, dis egter nog te vroeg.
Ultreia! Tot môre - DV.
Ns. Die paar tekkies kry ons langs die pad. Duidelik het die persoon besluit dis sy skoene wat hom terug hou.

Friday, June 21, 2013

MANSILLA VIA LEON NA LA VIRGEN DEL CAMINO

Ons het vooraf reeds besluit, op aanbeveling van John Brierley se gids, (die  enigste gids oor die Camino wat jy nodig het) om met die bus na Leon te ry. Ons lywe was gedaan na gister se lang stap. Brierly sê nogal jou ego kan jou verhinder om die bus te neem, maar dit is dieselfde ego wat jou in die wiele kan ry om nie jou doelwit te bereik nie. Moenie na jou ego luister nie, luister na rede en die inset van ander.

Leon is 'n goot stad, dus net na die groot katedraal gaan kyk, gekoffie en toe die ongeveer 10 km uit die stad gestap om by La Virgen oor te slaap. Maria het hier in 1505 verskyn.

Ons stap tans nog relatief goed. Moet jou egter nie bekommer oor môre se pyne of jou ou pyne nie. Elke dag het genoeg van sy eie. Die roetine is om slaapplek te kry, lekker te stort, klere te was en 'n roompie op die seer plekke in te vryf. Dan gaan loop ons deur die dorp, kyk wat te sien is en koop kos vir die aand. So ver het die albergues almal kombuise waar jy kos kan voorberei. Ons slaap 24 in 'n saal, mans en vroue deurmekaar. Maak seker jy kan bo-op 'n stapelbed slaap.

Op pad uit Leon uit stap ons by sulke huisies verby soos in die fliek "The Hobit, the unexpected journey". Ons draai af en kry 'n omie wat buite besig is om iets te eet. Ek vra uit na die huisies. Hy beduie, maar my Spaans is te gebrekkig om werklik te verstaan. Hy nooi ons in en ons betree 'n nuwe vreemde wêreld waaruit ek aflei hy iets soos 'n wynkelder bedryf. Daar is selfs 'n kombuisie met vuurhert. Hy skink vir ons 'n glasie vaaljapie. Inderdaad die onverwagse op die reis.

Hier waar ons oorbly is 'n nuwe katedraal gebou, bo-oor die oorspronklike een. Voor die ingang is hierdie kolosale brons beelde van die 12 apostels met Maria in die middel, verhewe bo die ander. Jakobus staan derde van regs met die staf in die hand. Hy kyk in die rigting van Santiago. Ons kyk stadig maar seker ook in dié rigting. Ons verpoos in die kerk en ek bid weer vir bekendes by die huis en die pelgrimsgebed. Elke tree wat ons hier gee behoort 'n gebed om vrede en aanvaarding van ander te wees. Mag dit to so wees.

Tot weer (hopelik) môre.

Thursday, June 20, 2013

DAG 2 HERMANILLOS NA MANSILLA

Ons beker is toe gister en vanoggend deur die tannie wat die Albergie bestuur, vol gemaak. Sy het ons gisteraand in die bed kom nagsê en vanoggend voor ons vertrek het, omhels, gedruk en "Buen Camino" toegewens. En toe begin die stap, meer as 25 km! Dit het egter niks gereen nie en ons kon ons kouse agter op ons rugsakke droogkry.

Ons is dankbaar dat na twee dae nog geen blase het nie, maar moeg en seer inderdaad. Ons reflekteer op die pad oor die reis, hoe die moegheid jou stroop en jy werklik in die oomblik leef. Dan is die klein vreugdetjies te vind in die neerval langs 'n vervalle skuur en brood, kaas en vleis se eet en 'n medepelgrim wat verby kom en jou 'n bier offer.

Ons sit nou in Mansilla by 'n munisipale albergue. Hier is plek vir 72 pegrims en dit is vol. Weereens uiters verbaas. Dit is vreugde en samesyn hier in die binnehof waar pelgrims kuier, sing en saam kos maak om met mekaar te deel.

Toe ons vanmidddag hier aankom, word ons bekers weer volgemaak. Voor my is talle jongmense wat in bespreek. Ons pak af en ek verduidelik vir die dame dat ek asb die wittebrood-suite saam met my vrou wil hê. Sy vra: "met see-uitsig?", ja en met 'n maseuse. Sy glimlag, stempel ons spelgrimspaspoorte en roep dan uit. "But you are a priest!", Yes but  I am protestant, antwoord ek, sy stempel Ansie se paspoort, gee aan ons 'n sleutel en beduie waarheen. Ons kry ons eie privaatkamer met badkamer!

Ons maak vanaand 'n seekospasta met plaaslike vino tinto - heerlik. Ek herinner my telkens om die eenvoud in die oomblik te beleef. Hoe het die eerste pelgrims die tog oorleef met hulle kalbassie water en dalk 'n stukke brood van wat van die eucharistie êrens die oggend oorgbely het?

Tot hopelik môre. Ultreia!

Wednesday, June 19, 2013

SAHAGUN NA HERMANILLOS DE LA CALZADA

Ons het heerlik geslaap. Rustige ontbyt en toe moes ons die pad vat. Dit reën! Ons het ongeveer 12 km om te stap. Ons het besluit om rustig te begin. Die roete wat ons vandag loop is die een wat minder verkeer dra - Via Romana. Ons poog om aan alles gewoond te raak, omgewing sowel as toerusting, dis koud en nat, maar ons is mos hier vir die belewenis.

Sommige van die perigrinos is nie eens lus om te groet nie, maar "moenie hulle oordeel nie, wees op die uitkyk vir die wat jou beker die dag moet volmaak." Ons ontmoet twee Amerikaners, 'n man en vrou, hulle is seker ons ouderdom, maak 'n geselsie en stap verder wyl ons eers by 'n kerk stil raak en mense by die huis aan die Vader opdra.

Later kry ons 'n Finse juffrou, sy beweeg. Ons ontmoet haar weer by die munisipale herberg vanwaar ek nou gou die blog ding kan doen. Ons is na dag een en 13 km gedaan. Die stort is warm, mense vriendelik en ons eet die heerlikste perigrino spyskaart (Ek wou nog altyd haasvleis probeer). Ons deel ons slaapplek in ons oop-kamer met nog twee ander. Waar ek hier in die eetkamer sit, hoor ek reeds hoe snork een - 17:00.

Wat ek oor die munisipale Albergue gelees het, lyk die een baie goed. Privaatheid is min, maar die tannie wat na alles omsien is vriendelik na 'n aanvanklike misverstand wat ek nou nog nie weet wat gebeur het nie. Duidelik voel sy sleg oor die saak want sy het nou reeds twee keer my aan die arm kom vryf terwyl sy iets verduidelik. Leer betyds Spaans, dit maak dit soveel makliker.

Tot môre (as daar internet is).

In transito

Maandag 17 Junie breek aan en ons kinders laai my en Johan om 14:00 by die Gautreinstasie af. Ons vlug is eers 19:00 wat ons genoeg tyd by die lughawe gee om sakke te rap en rustig aan die ander kant te gaan sit. Ek verbaas my steeds aan mense se goedheid jeens ons. Een wil ons borg om in die Slow Lounge te gaan ontspan, 'n vriend bel om ons te versoek dat sou enige iets in Spanje verkeerd loop, ons hom dadelik sal bel. Ons is nie alleen op hierdie reis nie.

In Madrid, bykans 24 uur later, laai ons die ekstra bagasie af by die hotel waar ons aan die einde van ons Camino gaan oorslaap. Ons trein na Sahagun, van waar ons begin, vertrek eers later. Ek spaar jou die detail, behalwe om te sê dat ons by die tyd gedaan is. By Sahagun aangekom is dit afpak, vinnige koffie om teen 23:00 die lig af te sit. O, ja! Dit reën.

Monday, June 17, 2013

CAMINO - TYD OM TE VERTREK

Dit is sulke tyd! Tyd om te groet en te vertrek. Gister het die “priester” ons toe geseën met die pelgrimsgebed. Dankie Sybrand, ons waardeer dit. Soveel mense het ons sterkte toe gewens. Ons wil glo dat dit sal goed gaan, dat ons reis geseënd sal wees. Ons poog om julle op hoogte te hou van ons vordering.

Dus groet ons eers.

"Ultreia, Suseia, Deus adjuva nos"

Voorwaarts, opwaarts, God met ons!

 

 

 

Thursday, June 13, 2013

GEREED OM TE VERTREK



So, gister val Ewald en Danie, twee kolegas van Modimolle hier by my in. Ewald het al die Camino gestap, ek het al vroeër verwys na die raad wat ek by hom gekry het. Ons drink koffie en kuier oor 'n klomp sake, maar veral die Camino. Ewald gee vir oulaas raad: “Luister na jou liggaam, as jy moet rus, doen dit. Indien jy die bus moet vat om te herstel vat die bus, onthou om jou Camino-paspoort gereeld te stempel.” Daar is steeds te veel vrae wat ek het om te vra. Ons sal dit later oor die net doen.

Ons praat weer oor die doel van die stap. Om jou rugsak te dra is deel van die simboliese dra van jou “pakkie”. Die Camino gaan oor aflê en nuut optel, opstaan en verder reis. Voor hulle vertrek, bid Ewald eers vir my. Hy bid dat dit vir my en Ansie 'n geseënde en veilige reis sal wees. Skielik in die oomblik beleef ek iets van die misterie van die reis, een pelgrim wat 'n ander pelgrim onvoorwaardelik aan die Here opdra...

Ons sakke is gepak, alles is reg. Nou is dit die laaste paar detail dingetjies wat aandag moet kry. 'n Vriendin bring 'n pakkie maag-medisyne, eetgoedjies en 'n klein buisie wondergom. Daar word geld in my bankrekening inbetaal van 'n onverwagse oord. Ons het twee nagte se akkommodasie in 'n pragtige hotel in Madrid geskenk gekry. Ons sal dit benut aan die einde van ons reis. So seën die Here ons reeds met hierdie reis wat nog nie eens begin het nie, of dalk het dit?

Dankie aan almal wat vir ons bid, goeie wens toe wens en ons reis op verskeie maniere besonders maak. Ons hoop ons sal julle op hoogte kan hou soos ons reis vorder.

Friday, June 7, 2013

WAAROM DIE CAMINO

Mense vra my nou twee vrae: Waarom gaan jy dit doen en die wat meer voorbarig is: Hoe kry jy dit reg?

Waarom doen ons dit?
Toe ons ongeveer drie jaar gelede daarvan gehoor het, het dit na iets geklink om te doen. Later het ons besluit, kom ons doen dit. Soos ons begin voorberei het vir die stap, het ek al hoe meer bewus geword van die feit dat mense wat so 'n reis onderneem nie onveranderd daarvan terug kom nie. Ek onthou my eerste reis na die kloosters in Egipte se westelike woestyn in 1997. Ek het teruggekom anders as wat ek gegaan het. In 2004 het ek weer teruggekeer na die kloosters van Pishoy, Surian en Baramos. Dit het my lewe in so 'n mate verander dat dit my totale spiritualiteit (hoe ek God beleef) radikaal in 'n nuwe koers gestuur het.

Ek en Ansie betree 'n nuwe fase in ons lewens. Ons kinders is op Universiteit en heel moontlik oor ongeveer twee jaar uit die huis uit. Dan is dit net ons twee. Ons het dus besluit om hierdie reis te onderneem met die oog op ons huwelik. Ons is bykans 22 jaar getroud. Daar lê moontlik nog 22 jaar voor. Die vraag is: Kan die volgende 22 jaar beter wees as die eerste 22 jaar? Nou hoe beplan jy om dit te maak werk op die Camino? Ek dink nie jy kan dit beplan nie. Dit is die intensie van ons harte en die begeerte van ons gees. Ten diepste wil ons soos die eerste pelgrims ook die reis onderneem met 'n begeerte om af te lê en iets nuuts op te neem. Dit is dus ons as reisgenote se reis saam met die Reisgenoot.

Wat hierby aansluit is dat dit 'n spirituele reis is. Nee, moet nie dink dit is nou hierdie “diep, ernstige, swaarmoedige saak” nie. 'n Reis gaan mos om vreugde, ervaring en belewenis. Die vreugde is hopelik geleë in die eenvoud van die reis, die minimalistiese oor die weg kom met min klere in jou sak (en met die Rand-Euro met minder geld ook) en die deel van die lewe met jou reisgenoot op 'n gemaklike, eenvoudige en vreugdevolle manier. Dit is nou as die pyne in die knieë en heupie nie die pret bederf nie. Dit is daarom 'n bestekopname oor waar ons onsself nou op ons lewensreis bevind en of dit tyd is vir aanpassings.

Hoe kry julle dit reg?
Wel dis seker soos om die Comrades te hardloop of enige ander groot doelwit. Dit begin met 'n idee of 'n droom. Daarna besef jy die droom moet afgebreek word in haalbare doelwitte en dan moet jy jou doelwitte stukkie vir stukkie opbreek in klein haalbare take wat oor 'n periode van tyd konstant aan gewerk en afgehandel moet word. Toe ons begin droom het, het Ansie onmiddellik die spaarplan in werking gestel. (Moet nooit geld as 'n verskoning gebruik waarom jy nie 'n droom kan koester nie.) Moet ook nie vir jou self sê dit gaan my Rxx,00 kos nie, ek het dit nie nou nie. Behalwe as geld vir jou geen probleem is nie, het min mense die finansiële vermoë om onmiddellik 'n groot klomp geld neer te sit. Oor 'n periode van tyd begin jy dit gewoon te reël en wanneer jy so 6 maande voor die beplande stap die vliegtuigkaartjies gekoop het, weet jy daar is nou geen omdraai nie. Dan is daar nog ses maande om te spaar en oor 'n periode van tyd sekere betalings te maak. Onthou ook dat terwyl jy stap, jy dit wat jy by die huis aan vervoer en kos sou spandeer nou op die Camino spandeer.

Doen jou eie reisreëlings oor die internet. Los die reisagente. Hulle het nie geduld om ure te soek na die beste vlieg-opsies teen die beste kostes nie. Jy kan alles self doen en nog 'n paar rand kommissie spaar. Doen jou verblyfreëlings en ander reisreëlings self oor die internet. Indien jy hierdie blog lees, kan jy dit doen.

“......sodat deur U begeleiding
hulle aan die einde van hulle reis veilig mag arriveer en,
verryk deur genade en deugsaamheid,
mag terugkeer na hulle huise
gevul met heling en ewige vreugde
Amen”

Tuesday, June 4, 2013

GADGETS, ROETES EN INPAK

Ons het die rugsakke gepak om die gewig te bepaal. My sak is 9 kg wat 1kg water insluit en drie stelle klere. Ansie se sak weeg ook 9kg met vier stelle klere!

Waterbottels
Ek gaan twee 500ml bottels dra. Die raad wat ek gekry het, is gebruik sommer 'n weggooi bottel wat jy by enige winkel koop. Maak seker van die tuit van die bottel dat hy lekker drink. Die voordeel, hulle kraak gewoonlik nie maklik nie, kan weg gegooi word en is lig. Nadele, jy kan nie jou water koel hou nie. Ek het dus twee 500ml waters by Woolies gekoop. Ek hou van die sagte plastiek en drink maklik met die tuit wat toe druk.

Gadgets
Weereens sal ons eers na die tyd weet of die goed gewerk het. Ek het twee Leatherman  produkte gekoop, 'n basiese knipmes en 'n tool met 'n skêr, kort lem, vyl en tweezer in. Laasgenoemde is vir eerstehulp doeleindes, pleisters ens. 'n Mes is een van die basiese gereedskapstukke wat moet saam. Hoekom Leatherman? Wel hulle is uiters lig en gewaarborg. Die ander mes was sommer een met 'n langer lem vir brood en kaas se sny. Ansie reken ek wil net speelgoed saam vat.

Kaarte
Dit is belangrik dat jy goed sal bepaal van waar jy wil stap. Indien jy nie die volle roete wil stap nie, moet jy êrens in die middel begin. Dit lyk vir my of dit redelik maklik is om by meeste van die dorpe uit te kom, hetsy reguit van Madrid lughawe of van een van die stasies in Madrid. Onthou daar is nie meer direkte vlugte na Madrid nie. Jy moet dus êrens oorstop. Lufthansa was ons beste opsie. Maak egter seker vooraf dat jy weet hoe om van die lughawe by die stasie te kom en van watter stasie jou trein vertrek. Bespreek die treinkaartjie van hier af oor die internet www.renfe.com . Hoe langer jy vooraf bespreek hoe goedkoper. Besluit ook hoe jy van Santiago weer terug kom in Madrid. Ons vlieg terug, http://www.ryanair.com/en was goedkoper as die trein.

Skoene
Die skoene voel op hierdie stadium goed. Les geleer – enige paar stapskoene gaan nie werk nie. Prysgewys kan jy maar begin kyk vanaf R1000, dit strek egter tot R25000.

Lesse reeds geleer
Toets alles vooraf! Ek het nou al 'n pak pleisters na Dischem terug gevat omdat dit nie plak nie. Maak seker jy koop ordentlike toerusting. Jy hoef nie die duurste te koop nie, maar jy wil nie aan daardie kant gaan sukkel nie. Maar nou ja, ons het nog niks getoets voordat ons nie die eerste tree op die Camino gegee het nie.

Ons vlieg oor 13 dae.

"Ultreia, Suseia, Deus adjuva nos"