Search This Blog

Friday, May 24, 2013

SKOENE



Ons skoene het toe vandag gekom (Hi-Tec v-lite altitude ultra-luxe wpi). Ek het die no 11(US) en Ansie no 9(US). Ansie het op die mansgrote besluit omdat die vroue-skoen vir haar te smal was. 

Ek kan nie wag om ‘n entjie met hulle te gaan stap nie. Ek het meer as ‘n maand laas gestap. Deels omdat ek nie skoene gehad het nie, maar ook omdat ek van ‘n besering probeer herstel het. Ek het in Januarie my knie seer gemaak met my voorbereiding vir Comrades. Nodeloos om te se dat ek nie die Comrades gaan hardloop nie. Ons het egter nou drie weke om soort van stap-fiks te word.

Onthou as jy skoene koop vir die stap, koop een nommer groter as wat jy dra. 

Sunday, May 19, 2013

KOSTES

Hoeveel sal dit kos om die Camino te stap?

Ons gaan net die helfte van die Camino stap, ongeveer 400km van Sahagun (18/06/13) tot Santiago (12/07/13). Hoeveel kos dit om die Camino te stap? Dit is seker ‘n vraag wat ons eers aan die einde sal kan beantwoord. Tog moet jy vir die pelgrimstog ‘n begroting van soort hê.

Sommige sê dat die Camino jou €30 ‘n dag kos, of €1 per kilometer. Dit beteken €30 x 20 dae = €600 (R7200 per persoon – R14000 vir ons twee). Nog ‘n som: 400km x €1 = €400 (R8000x2 – R16000).

Uitgawes reeds aangegaan:
Vliegkaartjies – R13000 (Daar is geen direkte vlug na Spanje nie. Ons vlieg via Frankfurt na Madrid.)
Vliegkaartjies na voltooiing van Santiago terug na Madrid vir my en Ansie R2055.
Een aand se slaap in Sahagun van waar ons begin R480.
Twee aande in Santiago waar ons klaar maak: R1080
Visums: R1800 (Maak seker al jou papiere is presies reg soos op die web verduidelik http://www.vfsglobal.com/spain/southafrica/ )

Ek laat die volgende buite rekening; die twee rugrugsakke - 50l sakke R1800, skoene R3000 (wag natuurlik nog vir die skoene) en ander klere-items, stapstokke ens. Indien jy 'n gereelde stapper is, behoort jy reeds baie van die toerusting te hê. Ek en Ansie se laaste stap was die Visrivier, ongeveer 100 jaar gelede.

Ons moet treinkaartjies koop van Madrid na Sahagun van waar ons begin. Verder stap ons mos! Ons gaan wel die bus vat, wanneer ons klaar is, van Santiago na Finisterre. Dit was die “finale” eindpunt waar pelgrims in die see gewas het en hulle klere verbrand het.

Kostes op pad is daaglikse kos en oorslaap by die pelgrimsherberge. Dit is nou waar die R12 per km inkom.

Behalwe om Spaans te probeer leer, wil ek graag die gebed, wat pelgrims sedert die 12de eeu bid, probeer memoriseer:

Here God, U het U dienskneg Abraham uit Ur van die Galdeërs geroep, oor hom gewaak deur al sy swerftogte en die Hebreërs gelei toe hulle die woestyn oorgesteek het. Beskerm nou hierdie kinders van U, ter wille van die liefde vir U Naam, wyl hulle nou die pelgrimstog na Compostela onderneem.
Wees hulle reisgenoot onder weg,
hulle gids by die kruispaaie,
hulle krag in moegheid,
hulle beskerming in gevaar,
hulle beskutting op die weg,
hulle skadu in die hitte,
hulle lig in die donker,
hulle troos in ongemak,
en die stukrag van hulle intensies;
sodat deur U begeleiding
hulle aan die einde van hulle reis veilig mag arriveer en,
verryk deur genade en deugsaamheid,
mag terugkeer na hulle huise
gevul met heling en ewige vreugde
Amen

Saturday, May 18, 2013

Camino de Santiago

Vandag oor 'n maand begin ek en +Ansie van den Heever die Camino de Santiago te stap. Ek gaan jou nie hier verveel met wat die Camino is nie, daar is genoeg plekke waar jy dit kan gaan op lees. www.csjofsa.za.org en  http://www.caminoadventures.com/  is maar van die blaaie. Hoekom dan die blog? Ons wil graag ons eie belewenis byhou van ons pelgrimstog. Die maklikste is om dit hier, elke dag van ons stap te doen. Ons wil ook graag ons ervarings met ander deel wat nog gaan stap of dalk oorweeg om te stap. Iemand soos +Ewald Schmidt se blog het my geweldig gehelp.

Toerusting is gekoop en reg, behalwe vir die heel belangrikste - ons skoene. Die skoene wat ons bestel het, lê in die Durbanse hawe. Ek hoop dat ons Hi-Tec v-lite altitude ultra-luxe wpi betyds hier gaan wees. http://www.hi-tec.com/za/products/hiking/1946-8868/v-lite-altitude-ultra-luxe-wpi/ Ons het aanvanklik die fout gemaak om sommer enige paar skoene te wou koop. Groot fout! Ansie het haar paar in een maand opgestap en myne het binne 'n maand pap geword. Kry die regte skoene. Ons sal rapporteer oor hoe hierdie outjies gewerk het, al dan nie.

Wat my nou opgewonde maak is die "mistieke" elemente van die voorbereiding. Ek noem 'n paar van die sake uit die nuusbrief van die Conformity of St James of South Africa (CSJOSA) waartoe ons aangemoedig word. Ons moet 'n wydingsete reel waar ons stapstokke en reisbeursie  deur jou plaaslike leraar/priester/pastoor geseën word. Die takie sal ek sommer self afhandel voor ons vertrek. Skynbaar kom die gebruik uit die 12de eeu toe pelgrims die pelgrimstog na die graf van die heilige Jakobus in Spanje aangepak het. (Dit sal seker help om jou beurs minstens drie jaar voor die vertrek te seën. Dis hoe lank ons vir die droom gespaar het.)

Nou ja, soos die vroeë pelgrims uitgeroep het: "Ultreia, Suseia, Deus adjuva nos" of dan Voorwaarts, opwaarts, God met ons!